ToekomsVenster: Vertrou op die Here

(Foto: Sweetlouise/Pixabay)

“ʼn Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Juda woestyn. Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ʼn dor en droë land, ʼn land sonder water.” – Psalms 63:1-2 (AFR83)

Uiteraard is konteks belangrik. Ons beland dikwels in die moeilikheid omdat ons nie die konteks waarbinne ʼn bepaalde saak plaasgevind het in ag neem nie. Konteks help ons om begrip te vorm en die ware aard en inhoud van die kommunikasie te verstaan.

Dawid, die koning van Israel, bevind homself letterlik in die woestyn. Hy moet vlug van sy eie seun Absolom wat die koningskap vir homself begeer. Dit moes ʼn bitter pil gewees het om te sluk.

As jy teenstand van mense kry waarmee jy nie ʼn verbintenis het nie, is dit een ding. As jou eie kinders teen jou rebelleer, is dit ʼn ander saak. Dit is hartverskeurend om die minste te sê.

Die fisiese konteks waarbinne Dawid homself bevind, is ʼn metafoor vir sy eie ontsteltenis. Die woestyn word gekenmerk deur droogte, dorheid, selfs doodsheid. Bestaan in die woestyn is riskant en bedreigend.

Die kenmerke word in ʼn geestelike sin interpreteer. Dawid is eg mens, weliswaar ʼn man na God se hart maar, nie ʼn superheld nie. Hy is onderworpe aan dieselfde vreesaanjaende gebeurtenisse as ander mense. Hy is ʼn voorbeeld vir alledaagse mense en hul bestaan op aarde.

“Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U.” – Psalms 56:4 (AFR83)

Dawid se hulpkreet word gekenmerk deur die frase: “O God”. Dit is bykans te hard om uit te spreek. Dit sny deur ʼn mens. Woorde soos soek, dors en smag kom sterk oor. Dis nie ʼn terloopse opmerking of versugting nie. Dit gaan oor bestaansnood, ʼn voortbestaansnood.

Was jy ook al daar? Miskien is jy nou daar!

Dawid wil ons van navolgenswaardige raad bedien.

Vertrou die Here. Raak bewus van God, Immanuel, die Een wat ons nooit sal begewe en nooit sal verlaat nie. Hy is ʼn persoonlike God, derhalwe die uitspraak, “my God”.

Vertrou die Here.

“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ʼn loflied sing. Hy is my helper.” – Psalms 42:6 (AFR83)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.