ToekomsVenster: Vertroue in die Here

Vertroue

(Foto: Reint Dykema)

Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê? Dis ‘n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. – 1 Kor.15:35-36

Die agtergrond van die besondere gedeelte in die Bybel vind ons daarin dat valse leraars onder invloed van die Griekse filosofie en denke verkondig het dat daar geen opstanding van die dooies is nie. Materie is sleg wat beteken dat die menslike liggaam eweneens sleg is. Derhalwe leef net die gees van die mens voort maar op so ʼn wyse dat dit met die “algees” verenig en daarin opgaan. Van ʼn persoonlike opstanding, gees en liggaam, is daar geen sprake nie. Dit het verwarring in die geledere van die gemeente gebring. Hulle kom na Paulus om sekere sake uit te klaar.

Paulus kom effens geïrriteerd voor as die vraag as “dom” afmaak. Die beginsel wat eweneens vir die normale lewe geld is dat alles eers deur ʼn sterwens proses moet werk voordat lewe aan iets nuuts geskenk kan word. Jesus praat op dieselfde wyse wanneer hy sê dat tensy ʼn saad in die grond val en sterf, bly dit een, maar as dit sterf, lewer dit oorvloedige vrug.

Paulus help die gemeente om te verstaan dat die dood ʼn noodwendige voorspel tot hierdie gebeure is. Wie sy lewe wil behou sal dit verloor, maar wie dit ter wille van Christus en sy Koninkryk prysgee, sal dit terug ontvang.

Ek herinner jou hoe ons verlede week in ons nadenke oor die dood troos gevind het in die bekende Ps. 23. Die “vallei van die dood” is nie ʼn bestemming nie, maar slegs ʼn deurgang.

Daar word gewag gemaak van ʼn “doodskaduwee”. Die skaduwee is nie die werklikheid nie. Christus het reeds die volledige prys betaal. Daarbenewens mag ons alleen wees wanneer ons hierdie weg betree maar ons is nie verlate nie. God is ook daar en sal ons deursien.

Ons wil almal lewe en so lank as wat moontlik is. Sommige gaan tot uiterstes ten einde die lewe hier op aarde teen wil en dank te kontinueer. Terwyl niemand die dood nader wens nie, hoef ons dit nie te vrees nie. Dit is inderdaad die noodwendige voorspel tot ʼn radikale ander manier van bestaan.

Wat God vir ons voorberei het, sal nooit teleurstel nie.

Dit is ook die boodskap van die Psalmdigter: niemand wat sy vertroue in die Here stel, word teleurgestel nie. (Ps.34)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.