ToekomsVenster: Vlieg met arendsvlerke

(Foto: Sam Bark/Unsplash)

“Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” – Jesaja 40: 29-31

Die jaar 2023 is ʼn realiteit en dit is opmerklik dat die moegheid van 2022 iets van die verlede is (altans ek hoop van harte so!).

Ek wonder wat gebeur in daardie enkele oomblik wat verloop tussen ʼn ou en nuwe jaar? Skielik voel alles nuut en vars en sien jy weer kans vir die lewe. Nuwejaarsvoornemens is aan die orde van die dag, alhoewel dit vir die meeste van ons nie baie lank hou nie. Dit opsigself is nie die einde van die wêreld nie, ten minste is dit ʼn interessante oefening, of wat sê ek alles?

Die Here se Woord is vol wonderlike beloftes en om veral aan die begin van ʼn nuwe jaar kennis te neem daarvan is bemoedigend. Ek wil dus graag in die volgende paar dae ʼn paar van daardie beloftes aanstip en hier en daar ʼn aantekening maak.

Die belofte hierbo is vandag se vertrekpunt. Ek sluit graag aan by die gedagte van moegheid en traagheid wat somtyds soos taaiheid aan jou bly kleef.

Ek het die laaste paar weke van 2022 ʼn intense moegheid beleef, wat toegeneem het soos die jaar uitgeloop het. Toe ek uiteindelik klaarmaak met die take waartoe ek my verbind het en wat deel van my weeklikse program vorm, kon ek bykans nie van die bed af opstaan sonder ʼn gevoel van magtelose moegheid nie. Dit is in hierdie tyd dat ek die belofte, baie bekend, weer raak gelees het.

Alhoewel die moegheid nie sondermeer verdwyn het nie, het ek intens bewus geword daarvan dat die Here my raaksien.

Kan jy identifiseer met ʼn gevoel van magteloosheid en ʼn totale gebrek aan lewensvreugde? Skielik voel dit asof min dinge sin maak en asof die Here ook stil geword het. Gelukkig is dit meermale net die subjektiewe belewenis van iemand wat die kers aan te veel kante gebrand het! Dit opsigself roep ʼn mens op om jou prioriteite grondiglik te hersien en belangrike besluite te maak oor hoe jy jou lewe inrig.

Die belofte verwys. Selfs jongmanne word moeg, sê die teks.

Die tyd waarin ons leef is intens, uitputtend en vra alles van ʼn mens. Jongmense leef onder groot druk in ʼn wêreld waar werk nie volop is nie en verskeie faktore daartoe bydrae dat die bes gekwalifiseerde persoon nie noodwendig die werk kry of behou nie. Te midde van dit alles kan arendsvryheid en -vlerke ʼn mens in en deur elke krisis lei.

Soos doodgewone rus stelselmatig my eie krag laat terugvloei het, soveel so dat ek weer kans sien vir die verantwoordelikhede wat te ene maal deel van elkeen van ons se lewens is, kon ek sien dat die teks inderdaad ʼn belofte is wat standhou.

Die Here herstel ʼn mens buitengewoon. Dit beteken nie dat jy nie ʼn verantwoordelikheid het om na jouself te kyk nie.

Die kuns is sekerlik om nie so uitgebrand te wees aan die einde van ʼn seisoen dat dit jou totale funksionering beïnvloed nie.

Lees die teks weer en weer en bind die belofte aan jou hart.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

WILLEM ·

Die Here is elke oomblik met jou – vertel hom van jou probleme, en los dit by Hom, moet nie probeer om maar self reg te kom nie – Jy sal ‘n antwoord kry!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.