ToekomsVenster: Vriende vorm mekaar

vriende-strand-stocksnap-pixabay-stiltetyd.jpg

(Foto: Stocksnap/Pixabay)

Moet julle nie langer laat mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” – 1 Korintiërs 15:33 (AFR 83)

Ons het gister begin gesels oor leierskap. Wat Suid-Afrika betref betreur ons die afwesigheid van leiers op baie terreine van die samelewing. Sommige leiers het hul integriteit opgeoffer op die altaar van hebsug en selfverryking. Die armste onder die armstes lei daaronder maar met gewetens wat toegeskroei is om die Bybelse metafoor te gebruik, is daar min hoop dat hulle sal verander, behalwe as God bonatuurlik ingryp. Die feit dat sommige se leierskap veel te wense oorlaat beteken nie dat ons nie vir leiers moet bid nie. Romeine 13 is daaroor duidelik.

Ware leiers bulder nie opdragte uit nie. Leiers deel dit wat aan hulle geopenbaar is met ander, kry hul samewerking en neem hulle op die avontuur van hul lewens. Leierskap is invloed maar invloed is nie noodwendig leierskap nie. Dit hang inderdaad van die gehalte van daardie invloed af.

Elke mens oefen invloed uit. Ons het al gehoor daar word gesê hy het ʼn slegte invloed op iemand of hy het ʼn goeie invloed op iemand.

Goeie vriende het goeie invloed op mekaar. Slegte vriende trek mekaar verder die put af.

Goeie leiers het goeie invloed op ander.

Die mense met wie jy jou omring maak saak. Dit gaan nie hoogmoedigheid of aanstellerigheid nie. Die spreekwoord is egter waar – aan jou vriende word jy geken. Omring jou met mense wat jou opbou, aanmoedig en die beste in jou na vore bring. Ook mense wat nie bang is om jou tot verantwoordelikheid te roep en op jou op daardie foute te wys nie.

Leiers erken dus dat hulle nie reeds gemaak is nie maar steeds in die leerskool van die lewe, meer nog, die leerskool van God in Christus, onder die leiding van die Heilige Gees, is. Dit maak ʼn mens se hart warm wanneer leiers onbeskaamd hul afhanklikheid van God verklaar. Sommige sakeondernemings maak geen geheim daarvan dat die Here die besturende direkteur of watter amp jy ook al aan Hom wil toedig nie, solank dit die hoogste is.

Of dit ʼn sakeonderneming of ʼn huishouding is, watter samelewingsverband ook al ter sprake is, ware leierskap is afgeleide leierskap.

Dis ʼn opdrag wat uitgeleef word.

Dis nederigheid in hoogste rat.

Yster slyp yster, vriende vorm mekaar. – Spreuke 27:17 (AFR 83)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.