ToekomsVenster: Waar is jou fokus?

Die briewekolom in die oggendkoerant is my gunsteling kuierplek, veral dit kort SMS-boodskappies. Jy het enkele woorde om jou gedagtes te deel en moet ekonomies dink en doen.

Foto: Marius Masalar/Unsplash

Die Springbokke se sege in Japan oor die Engelse het vir groot opwinding gevolg. Ten einde laaste het ons weer iets gehad om oor te glimlag en bly te wees. So ʼn vreugde-dieet is ʼn skaars ding in sonnige Suid-Afrika. Mense is oorwegend swaarmoedig, pessimisties, negatief en kwaad.

So verskyn die volgende boodskappie van ene Jovo Vich. Of daar regtig so iemand is wis ek nie, ek het selfs op Facebook gaan soek. Daar is ʼn Jolovich van en ʼn Milla Jovovich wat klaarblyklik wêreldberoemd is as aktrise, model, sangeres, ens., maar ek dink nie dis sy wat geskryf het nie. Dalk is dit ʼn skuilnaam maar die persoon  maak die verfrissende inskrywing, niks minder besonders nie. Dit lyk só:

Dit is alles pragtig:

  • Musiek
  • Familie
  • Hoop
  • Geloof
  • Reën
  • Dankbaarheid

Wat ʼn heerlike en raak opsomming van alles wat sin gee aan die lewe. Jy kan opstelle skryf oor elkeen van hierdie begrippe.

Ons fokus is so op die verkeerde goed. Selfs die Springbokke se sege sal aanstons geskiedenis wees. Die euforie raak vergete en die lewe gaan sy gang. Dit is bogenoemde dinge wat ʼn langer leeftyd, ja selfs oneindig belangrik en betekenisvol is.

Laat ʼn mens wonder, wat maak jou opgewonde.

Tel musiek, familie, hoop, geloof, reën, dankbaarheid daaronder?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.