ToekomsVenster: Waarlik vry, of nie?

son-deur-koring-deur-juanita-badenhorst

(Argieffoto: Juanita Badenhorst)

“Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas …” – Efesiërs 6:14

Dit is baie interessant dat almal na vryheid streef, maar nie altyd weet hoe om dit te hanteer nie.

So baie van ons teologie is eintlik steeds vryspraak op grond van wet-onderhouding, in teenstelling met vryspraak deur geloof in die voltooide werk van Christus Jesus, aan die kruis en bevestig deur die oop graf.

Vra mense of hulle gered is, of hul verhouding met die Here in orde is, en hulle vertel van hoe hard hulle probeer om God te beïndruk met hul goeie lewens.

“Ons gaan kerk toe, nie so gereeld as wat dit kan nie maar …” en dan volg die baie verskonings waarom die plaaslike gemeente aan die agterspeen suig. Dan kom die goeie dade en werke aan die beurt, die baie wat vir ander gedoen word sonder dat mense daarvan bewus is. Die Bybel word soms gelees en gebed word te midde van ʼn baie besige program ingepas. Geld is min, maar as daar iets by te dra is probeer hulle hul bes.

My bedoeling is nie om iemand te stereotipeer of te na te kom nie, inteendeel. Die goed wat bo genoem is egter die vrug wat volg op geloofsversekerdheid. Dit kan nie as rede aangevoer word waarom iemand se saak met die Here reg is nie. Dis nie onbelangrik nie, maar dit is sekondêr.

Immers, die man aan die kruis het geen erediens, sinagoge-diens bygewoon nie, daar was nie geleentheid om iemand terwille te wees nie. Hy het geen finansiële of ander bydrae gelewer nie, geen meriete wat hy kon aanbied nie. Desondanks sê Jesus: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees”.

Die vryspraak kom as uitnodiging na ons op grond van wat Jesus gedoen het. Hy, die onskuldige, het vir skuldiges betaal. Hy, die sondelose, het vir sondaars ingestaan. Hy, die koning, het vir bedelaars ʼn toekoms gegee.

Die vryspraak is deel van jou Christelike mondering. Dit is deel van die wapentuig – die vermoë en genade om te roem in die voltooide werk van Jesus aan Golgota se heuwel.

Ons verdien niks en kan niks verdien nie.

Ons beste pogings is soos ʼn wegwerplike kleed.

Ons het genade nodig en God gee dit vrylik aan elkeen wat daarvoor vra.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.