ToekomsVenster: Wat God vra is nie onredelik

bybel-lees

(Foto: Hannah Busing/Unsplash)

Miga 6: 8 – Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Miga spreek die hart aan: Wat God vra, is duidelik. Dit is nie onredelik of vermakerig nie en dit vloei natuurlik voort as ʼn dankbaarheidsgestalte.

Wie die ewige dood misloop, ʼn toekoms sonder God vanweë die sonde en die oordeel wat daaraan kleef, kan nie anders as om ʼn lied van dankbaarheid te sing nie. Dit laat my dink aan die gesang:– Ek wat vergiffenis Heer ontvang het sing dankbaar my verlossingslied. U weet hoe ek na U verlang het. U het U guns my aangebied. Ek loof en prys U deurentyd. En roem U groot barmhartigheid.

Die Here, sê Miga, vra drie dinge. Die dinge sluit by mekaar aan, die een veronderstel die ander, die een kan nie terwyl die ander uitgelaat of verwaarloos word nie. Die een is voorwaarde vir die ander en die een is die vergestalting van die ander.

“Reg te laat geskied”. Dit staan teenoor die growwe en gruwelike uitbuiting van rantfigure waarvan ons in die teks lees. God trek Hom die lot van die armes aan. Wie aan ʼn arme barmhartigheid bewys doen dit aan God self. Dink aan die profetiese rede in Matt 25. “Ek was honger, dors, naak, eensaam, in die gevangenis, siek en jy het, of jy het nie”.

“In sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit aan My gedoen”.

Liefde en trou. Die groot gebod het met die liefde te doen. Dit is die motivering agter Jesus se koms na die aarde, dit is die motivering vir ons betrokkenheid by mense wat swaarkry.

“Trou, getrou, getrouheid, betroubaarheid”. lê in dieselfde betekenisveld.

Dit is om die voorbeeld van God self na te volg en uit te leef. “Niemand wat op die Here vertrou, word teleurgestel nie” lees Ps. 34.

Kan dit gesê word dat niemand wat op ons, my en jou, die geloofsgemeenskap vertrou, teleurgestel word nie?

“Bedagsaam” is so ʼn mooi woord. Bedagsaamheid is ʼn nederige lewenshouding wat nie op selfhandhawing aandring nie, wat sy plek voor God en ander ken, wat hoogmoed en vernaam wees agtergelaat het.

Die “Boodskap” vertaal die gedeelte so : Die Here het mos al vir julle gesê wat die regte dinge is om te doen. Hy het ’n ooreenkoms met Israel aangegaan dat Hy en hulle aan mekaar getrou sal wees. Daarom verwag Hy van mense wat hierdie ooreenkoms nakom om te doen wat reg is. Verder ook om aan Hom lojaal te wees en Hom lief te hê. Laastens moet hulle nie hoogmoedig teenoor die Here wees nie.

Dit is moontlik om die Here te behaag deur ʼn lewe wat aan Hom toegewy is.

Die eise van God se Woord is haalbaar deur die Heilige Gees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.