ToekomsVenster: Wat ’n interessante klomp mense

vriende-strand-stocksnap-pixabay-stiltetyd.jpg

(Foto: stocksnap/pixabay.com)

“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” – Johannes 17:20-21

Die kinders van die Here is so divers soos wat die Suid-Afrikaanse samelewing is. Dit kan ook nie anders nie, omdat daar gelowiges is in elke stroom van mense wat hierdie lieflike land bewoon.

Omdat mense van mekaar verskil en verskillende temperamente het, beleef hulle God ook op ʼn verskeidenheid van maniere.

So sal een persoon vertel dat hy naby aan God voel wanneer hy homself in die natuur bevind en inderdaad – dit is ʼn wonderlike ruimte om van God bewus te word!

Iemand anders sal weer sê dat daar waar swaarkry aan die orde van die dag is, word God intens beleef. Dit is eweneens waar omdat God by uitstek by die gebrokenes is. Hy nooi ons dan juis uit om ons diepste nood voor Hom te beklae en beloof dat Hy ook daarin met ons op weg is.

Nog iemand mag sê dat hy van God bewus word wanneer hy in toegewyde Bybelstudie betrokke is, saam met medegelowiges verkeer, die erediens besoek of nagmaal gebruik.

Soveel mense, soveel belewenisse en almal ewe waar en legitiem.

God se kinders is divers en somtyds uiteenlopend, net soos dit die geval is in ʼn gewone huisgesin.

Somtyds is daar ʼn kind wat heel anders vertoon as die res van die huismense. Dit lê in sy aard en is soos die Here hom gemaak het.

Hoe eentonig, vervelig en voorspelbaar sou dit nie wees as ons almal presies dieselfde gedink en selfs geglo het nie?

Teologie, woorde oor God, nadenke oor God, is nie ʼn eens en vir altyd afgehandelde saak nie. Om God so te probeer vasvang in menslike terme, doen Hom oneer aan.

Daar is inderdaad die wesentlike van die geloof waaroor gelowiges saamstem. Dan is daar dinge wat mense verskillend interpreteer.

Was Jona in die vis of is dit beeldspraak?

Ek twyfel of dit op dieselfde vlak lê as die vraag na die Godheid van Jesus. Jesus is die Seun van die Lewende God, ons enigste hoop op die ewige lewe, hier en aan die anderkant. Afgehandel en onbetwisbaar waar.

Jona in die vis, lê op ʼn ander vlak. Belangrik is dat die Heilige Gees dit goed gedink het om dié verhaal in die Bybel te laat opteken. Dit is ʼn merkwaardige verhaal wat die onverstaanbare goedheid en liefde van God, ook vir mense wat totaal onverskillig staan, wil tuisbring.

Dit is tog waar die boodskap lê. Die mense van Nineve is, soos ek en jy, opstandig, onverskillig en rebels, maar tog voorwerpe van God se liefde. Hy gee selfs om vir die diere. Dit is die God wat ons dien.

Oor sommige goed stem ons saam en dis heerlik. Oor ander goed verskil ons, maar dit maak nie van hulle wat nie saamstem heidene en vyande van mekaar nie.

Daar is inderdaad ruimte onder God se genade-son vir ons almal.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.