ToekomsVenster: Wie is Jesus vir jou?

Foto: Juan Giraudo/Unsplash

Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. – Hebr. 1:13

Wie is Jesus vir jou? Neem ʼn minuut of twee om hieroor na te dink. Die teks sê in soveel woorde dat Jesus God is. Ons glo immers in ʼn drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Uiteraard moeilik om te verstaan maar verstaan is nie ʼn voorwaarde vir geloof nie.

Geloof sluit verstaan nie uit so asof jy nie moet of mag dink oor die misterie wat God omhul nie, inteendeel. As die Here nie wou gehad het ons moet dink nie sou Hy ons tog nie die vermoë gegee het nie.

Aan die ander kant is dit so dat God groter is as ons vermoë om te verstaan en ons moet Hom dit moet toegee.

Rom. 11:33-34 – O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Jes. 55:8-9 – My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Die Woord is egter duidelik daaroor dat Jesus, self God en van alle ewigheid af God, in die volheid van die tyd mens geword het en onder ons kom woon het. Met daardie stuk teologiese waarheid is jy goed bekend, ek hoef dit nie hier te herhaal nie.

Terug dus by my vraag; wie is Jesus vir jou? God self of ʼn verdienstelike, navolgenswaardige weldoener, Iemand wat inspireer, maar nie kan red nie?

Ek herinner jou daaraan dat dit juis die unieke is van hierdie Man, Jesus van Nasaret. Volledig mens en volledig God. Ja, tot vandag toe.

Jesus in sy verheerlikte vorm sit aan die regterhand van God die Vader as volmaakte mens en volmaakte God in die hemel. Daarsonder is ons redding op dryfsand gebou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Vader Seun en Heilige Gees…my mens verstand kan U nooit ooit bevat nie..dankie Here dat U begrip het vir my broosheid my powere menswees..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.