ToekomsVenster: Wie se standaard handhaaf jy?

(Foto: StockSnap/Pixabay)

Ek is geen sielkundige nie, maar het al dikwels gehoor dat die eerste sewe jaar van ʼn kind se ontwikkeling strategies belangrik is vir die res van sy of haar lewe.

Dinge loop somtyds erg verkeerd in mense se lewens, maar die knelpunt lê by die eerste lewensjare.

Kinders is gedurende hierdie tyd erg beïnvloedbaar en neem die lewensnarratief wat vir hul voorgelê word deur ouers en versorgers as die aangewese pad vir die lewe.

Net ʼn wonderwerk en ʼn bewustelike omgaan en ingaan in daardie meesterverhaal kan ʼn mens bevry van die houvas daarvan oor jou as mens.

Ek kyk graag TV, dalk jy ook, en veral stories waarin menslike intrige uitspeel. Dit is opmerklik dat mense reeds ver gevorder op die lewenspad steeds hunker na die goedkeuring, ondersteuning en waardering van ʼn ouerfiguur.

Hoeveel mense probeer selfs in hul volwasse lewe steeds uitkom by die onredelike standaarde wat ʼn ouerfiguur gestel het nie.

Daarmee saam het die maatstaf vir aanvaarding oënskynlik aanmekaar geskuif.

“Mooi so my seun of dogter,” het altyd uitgebly.

Later verskoon die ouer sigself met ʼn verskoning dat hy of sy net die beste wou hê vir sy seun of dogter. Dat hulle voorberei moes word vir die harde werklikheid van ongelyke geleenthede, prestasiebeheptheid en kompetisie. As jy nie die beste is nie het jy geen waarde nie, is die sub narratief.

Hoe skreiende hartseer en vernederend nie?

In die proses word al die aandag aan die kind gegee wat opleef na ma en pa se standaarde. Die ander skree vanaf die pawiljoene. Hulle verdwyn in die massa, word ʼn nommer, is weglaatbaar klein.

Ek weet dat ʼn mens somtyds die baba met die badwater weggooi en miskien doen ek dit hier. Tog wonder ek of jy met hierdie vernedering in jou lewe moes hanteer?

Jou waarde, identiteit lê Goddank in die unieke wese wat jy is.

Beelddraer van die lewende God self.

Onherhaalbaar, eenmalig, net eenkeer in die wêreldgeskiedenis ontplooi.

Die bloudruk word daarna vir altyd gebêre.

Vanuit God se Perspektief, suksesvol, mooi, volledig, uniek.

Miskien ruk hierdie nederige paragrawe jou as ouer tot verhaal. Daar is ʼn groot verskil tussen aanmoedig en afknou.

Dalk lê die antwoord in selfaanvaarding.

Wie se standaard probeer jy bereik?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.