Lees Romeine 12:1-2
Ek het deur die jare agtergekom een van die aspekte van die geestelike lewe wat baie mense moedeloos of teleurgesteld laat, is die feit dat hulle dit nie altyd regkry om te verander nie. Hulle leer baie dinge, kry baie insig en probeer daarvolgens leef, maar kry dit dan nie reg nie. Dit laat hulle voel hulle is mislukkings, swakkelinge, nie goed genoeg nie. Daarom vind ek dat een van die bevrydendste aspekte van dissipelskap is om tot die insig te kom dat dit nie nodig is om jouself te verander nie. Jy hoef ook nie te probeer nie, want jy gaan heel waarskynlik tweede kom. As jy wel voel jy is redelik “suksesvol” daarmee, kan dit moontlik tot ‘n gevoel van trots en “ek is beter as ander wat so sukkel” lei. Dit is ook nie ‘n goeie plek om te wees nie.
Dit is waarom Paulus se raad in Romeine 12 so treffend is. Hy sê nie jy moet jouself verander nie, maar dat jy moet oorgee. Jy kan dit wel doen, want oorgawe gaan saam met die erkenning van jou eie swakheid en onvermoë. Dit is juis om voor God se voete neer te val en te erken: “Here, ek kan nie! Help my, wees my genadig!”