Gedagte vir die dag: Tronkmisterie

ou-muur-stiltetyd-pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hulle het die apostels oop en bloot laat vang en hulle in die tronk gestop. Maar ’n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak. (Handelinge 5:18-19)

Die moeilikheid het gou vir die apostels gekom. Die Joodse Raad het genoeg gehad. Benoude bokke maak benoude spronge: hulle het die apostels laat arresteer en in die tronk gestop. ’n Engel het in die nag die tronkdeure oopgemaak en die volgende dag het die dissipels weer in die tempel geleer, tot groot ontsteltenis van die Raad. Daardie Raad sou nog baie ontsteltenisse belewe.

Petrus-hulle sou hulle nie laat stilmaak nie en die Here sou nie stilsit nie. Die apostels maak kennis met die tronk en lyfstraf én met ’n engel én met ’n merkwaardige verlossing. Vir die getuies van Christus was die pad nie met rose bestrooi nie. Dit was harde werk. Hulle was deel van God se metode. En God se metode is dikwels ’n misterie.

Natuurlik is daar sekere misteries wat ’n mens maklik kan oplos, soos in ’n speurverhaal. Maar daar is ander omvangryker misteries waarvan die waarheid juis deel is van die misterie. Jy weet byvoorbeeld wie jy is, maar verstaan jy elke dag die misterie van jouself? Hoe meer ’n mens die misterie van God se werk probeer verstaan, hoe ingewikkelder word dit. Dieselfde met jou: hoe meer jy jouself probeer verstaan, hoe meer ontwyk die volle waarheid omtrent jouself jou, en hoe meer ontdek jy dinge in jouself waarvan jy onbewus was, maar wat jou met nóg vraagtekens laat. Jy leef nie deur jou eie misterie op te los nie. Jy leef juis deur jou eie “misterie” te lééf en die res aan God oor te laat.

Om te sê God en sy weë is ’n misterie is om Hom te probeer vasspyker. En selfs in Christus se geval was dit vergeefs. Petrus-hulle was in die tronk. Petrus-hulle is vrygelaat deur ’n engel. Petrus-hulle het voortgegaan en die misterie van God was aan die werk tot voordeel van almal, ook tot jóú voordeel. Nou. Teenswoordig.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.