Sodra julle hoor dat die priesters ’n uitgerekte sein op die ramshorings gee, moet almal ʼn harde kreet gee. Die stad se muur sal dan inmekaarstort. Die manskappe kan dan daaroor klim om in die stad in te gaan. (Josua 6:5)
Al verrys mure van twyfel voor jou, sal jou uitroep van geloof dit laat intuimel. Al deurklief jou kreune van wankelende geloof my hart, is dit die uitroep van geloof wat my hand laat beweeg. Ek het vir jou gesê dat Ek reeds vir jou die oorwinning gegee het, nie dat Ek dit “sal gee” nie. Staan op wat jy weet en wandel standvastig in jou geloof sonder om te weifel.
Moenie ontsteld wees nie; moenie dat enigiets jou laat wankel nie. EK IS altyd by jou, en daar is nooit enigiets om te vrees wanneer jy op My vertrou nie. Die geheim tot jou oorwinning lê in jou uitroep van geloof, in die gesag van my Woord waardeur jy die beloofde oorwinning kan toeëien. Jy moet uitroep in die geloof wanneer daar geen tekens van oorwinning is nie, wanneer jou omstandighede die geloof weerspreek wat jy bely. As Ek my beloftes aan jou verklaar het, dan is dit jou geloof wat dit as waar sal bewys. In die oomblikke wanneer my weë nie sin maak nie en jou rede jou anders wil oortuig, roep na My in geloof en luister na die gerusstellende versekering van my stem.
Jou uitroep van geloof sal die mure van twyfel laat ineenstort, en my oorwinning sal duidelik wees. Wanneer jy voor uitdagings te staan kom wat onoorkombaar lyk, vertrou op wat Ek vir jou gesê het: “Skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin” (Joh. 16:33).