Vaste geloof in ’n krisistyd

‘n Gesondheidswerker in Suid-Korea maak reg om pasiënte te behandel. (Foto: Ryu Young-seok/Yonhap via AP)

Deur ds. Adriaan Swart

“Hy het ons krankhede op Hom geneem, en ons siektes het Hy gedra” – Matteus 8:17.

Die uitbreek van die koronavirus oor die hele wêreld heen het miljoene mense in ʼn staat van vrees en paniek gedompel. Hierdie reaksie is nie vreemd nie omdat miljoene in kwarantyn is, duisende mense reeds siek geword het en selfs gesterf het. Indien die situasie nie dramaties gaan verbeter nie, sal daar duisende en selfs miljoene mense nog siek word.

Hierdie wêreldwye pandemie het die ganse mensdom inderdaad in ʼn krisis gedompel. Mediese sorg, ekonomieë en markte is onder geweldige druk, om nie te praat van al die logistieke probleme in verskillende lande nie.

Hoe behoort Christene die tye waarin ons nou lewe, te hanteer? En watter bydraes kan hulle lewer om mense hoop te gee?

Die Here Jesus Christus het oral in sy Woord gesê: “Moenie vrees nie” (Matt 28:10; Luk. 12:31; Joh. 14:27).

Vrees veroorsaak paniek. Paniek en vrees kom nie van die Here af nie, maar wel ʼn gees van vrede, kalmte en hoop wat alle situasies tegemoet kan gaan. Daarom kan gelowiges enige toestand of ernstige situasie met kalmte en verantwoordelikheid hanteer.

Moenie jou ore vir leuens en vals nuus uitleen nie. Die Satan is die vader van die leuen (Joh. 8:44), en het juis ten doel om vrees by mense aan te wakker sodat paniek gesaai kan word. Luister na die Here se Woord, en nie na die duiwel se bangmaakstories nie.

Ons as Christene moet ook verantwoordelik optree. Luister na die raad van medici hoe om veilig te wees, en stel die nodige maatreëls in om jouself te beskerm teen die virus. Die Here het ook aan ons ʼn verstand gegee.

Baie aktiwiteite, konserte, sport en optredes is gekanselleer as gevolg van die virus – moenie laat liefde een daarvan wees nie. Dit is juis in tye soos hierdie waar Christene ʼn groot verskil in liefde kan maak.

Reik uit na hulle wat siek is. Ondersteun families wat geraak word deur die siekte. Doen wat jy kan om ander te help, in besonder die bejaardes, verswaktes, kinders en armes. Neem die nodige voorsorgmaatreëls wanneer jy ander help, sodat jy nie die risiko groter maak deur die virus te versprei nie. Onthou dat dit ons plig is as Christene om juis hulle in nood by te staan, sê Jesus in Matt 25. Maak jou hart oop vir jou naaste, en wys die hoop, vrede en liefde van Jesus aan almal.

Verder moet alle Christene in tye soos hierdie vashou aan die ware geloof in God, en ernstig vir almal bid in ons land en in die wêreld. Daar is groot krag in gebed (Jak. 5:16), en in Lukas 18:1 moedig Jesus ons aan om te bid en nie moedeloos te word nie. Daarom behoort alle Kerke en Christene ernstig te begin bid sodat hierdie virus vernietig kan word, en dat almal wat geraak word daardeur, krag van God kan ontvang.

Die Here belowe ook dat Hy altyd by ons is in alle omstandighede (Heb. 13:5 en Jes. 43:1-5), en dat Jesus Christus juis gekom het om al ons lyding op Hom te neem en ons siektes te dra (Matt. 8:17).

Jesus het self baie tyd saam met die siekes spandeer en talle mense genees (Matt. 8 en 9). Hy verstaan ons bekommernis, vrees, hartseer en pyn. Hy wil ons laste dra (Matt. 11:28-30).

Daarom moet ons juis in tye soos hierdie ons toevlug neem na die enigste Verlosser en Saligmaker Jesus Christus, ons moet ons geloof en vertroue in Hom stel en weet dat Hy die enigste een is wat ware genesing en redding kan bring (Joh. 14:6).

Gebed:

Hemelse Vader, ons bid vir vaste geloof in krisistye. Maak ons rustig en vul ons met U vrede. Amen.

  • Ds. Adriaan Swart is ‘n predikant by die AP-kerk Sanddrift, ‘n plattelandse gemeente 25km noord van Brits in die Noordwes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Estelle ·

Hierdie is sulke goeie raad en bemoedigende woorde. Baie dankie

Yvonne ·

Dankie soms moet ons weer herinner word dat ons God genadig is dat niks ons van Sy Liefde kan skei nie…dat niks maar niks te groot of te klein is wat Hy nie namens ons kan hanteer nie…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.