The Roar en die Lewensdoel-veldtog
Daar is soveel mense wat deur die lewe gaan en nooit weet hoekom hulle hier op aarde geplaas is nie. Wat is jou skeppingsdoel? Hoekom is jy hier?
Die filmmaker, Frans Cronjé, wil met sy nuwe film, The Roar, die boodskap oordra van hoe om jou lewensdoel uit te ken.
Cronjé, vervaardiger van onder meer rolprente soos Faith like Potatoes, Hansie, Baroudeur en Born to Win, is gereed om sy splinternuwe film, The Roar, Vrydag 2 Maart in teaters landwyd vry te stel. Die lokprent onder aan die artikel.
The Roar is deel van die 2018-Lewensdoel-veldtog, wat ten doel het om jonk en oud te inspireer om hul ware lewensdoel te ontdek en daardeur ʼn betekenisvolle verskil in die wêreld te maak. Baie kerke, skole en instansies het reeds by die veldtog, wat tydens Nasionale Lewensdoelweek van 2-10 Maart ʼn hoogtepunt sal bereik, ingeskakel. Van die talle bekende organisasies wat die veldtog steun, sluit in die #Imagine Ervaring, I am Youth en die ATKV.
The Roar is die storie van Louise, wat op ʼn lewensreis is, op soek na haar lewensdoel. Sy wil in New York ʼn Broadway-ster word, maar haar pa wil hê sy moet trou en in die Suid-Afrikaanse Bosveld bly. Om sake te vererger word hul lewe in gevaar gestel deur ʼn spul gevaarlike renosterstropers.
“Hierdie aksie-avontuurdrama is die afgelope weke in nege stede in stampvol teaters, met invloedryke gaste, vertoon en die reaksie was ontsettend positief. “Dit geld ook vir ons voorskoue in die VSA,” sê Cronjé. “Dit wil voorkom asof daar tans ʼn sterk belangstelling is in die tema oor die ontdekking van die lewensdoel en ek glo werklik dat hierdie film grootliks tot die toekoms van ons nasie kan bydra. Wanneer mense doelgerigte lewens leef, is hulle meer geneig om op oplossings te fokus, as om oor hul eie lewensuitdagings negatief te wees.”
Cronjé het ook onlangs ʼn boek geskryf met die titel, Ontdek jou doel, wat aanvullend tot die tema van The Roar is.
Die filmografie en klank in The Roar is uitsonderlik en die resensies is merkbaar goed. “Dit is die eerste keer in ʼn lang tyd dat ʼn fliek my so opgewonde maak,” sê Melissa Viljoen, van die Nasie Inspirasie-blog.
Dr. Gustav Gous, ʼn lewens-en-leierskapmentor, sê: “Dis ʼn kragtige fliek oor passie en doel. Só inspirerend dat hierdie fliek jou gaan oortuig om jou eie doel uit te leef. Hier kom ʼn lewensdoel-golf.”
Steve Palframan, ʼn bekende krieketspeler, sê: “Wow, wonderlik en inspirerend. Ek het die toneelspel, musiek en die natuurtonele baie geniet. ʼn Fantastiese, uitdagende Christenfliek en ʼn asemrowende toonvenster vir Suid-Afrika! Trots op jou, Frans.”
“Hierdie tonele gee voorwaar lewe aan die storie,” aldus CJ Lues, media-ontwerper van Hillsong Channel SA.
“Maak nie saak wat jou geloof is nie, hierdie film praat met almal en laat jou oor jou eie lewenspad en jou eie lewensdoel nadink,” sê die perdeterapeut en instaan-aktrise, Leanne Taylor.
“The Roar raak my werklik diep. Daar is soveel lewenslesse wat op elkeen van ons van toepassing is.” – Dr. Isak Burger, AFM
“ʼn Verfrissende Christenfilm wat in pas is met Hollywood en ʼn asemrowende boodskap bring. Plaaslik is lekker!” – Hendrik Bouwer
“Hierdie fliek is roerend en dit praat met jou hart. The Roar maak jou wakker vir jou eie doel, binne God se doel vir jou.” – Daniel Briers
“Dis vir seker ʼn stukkie gereedskap wat gelowiges en ongelowiges oor die doel van hul lewe sal laat dink en praat.” – Arno Mattheus, jeugpredikant by NG kerk, Durbanville
Die sangeres, Wanda Bam, is versot op die klankversorging van The Roar en meen die kamerawerk is knap beplan en gedoen. “Heinz speel uitsonderlik goed en Almarie is ʼn inspirerende verrassing.”
Meer oor The Roar
The Roar is ʼn avontuurdrama wat in New York en in die Suid-Afrikaanse Bosveld verfilm is met Almarie du Preez wat haar debuut maak in die hoofrol en die Pop Idols-wenner, Heinz Winckler, in die rol van haar verloofde. Cronjé speel haar hardkoppige pa en drie Amerikaanse akteurs, Torry Martin, Shaullanda LaCombe en David Morrin, is ingevlieg vir ondersteunende rolle. Twee bekende Suid-Afrikaanse akteurs, Eugene Khumbanyiwa (District 9) en Greg Kriek (Born to Win, Mooirivier, ʼn Man soos my Pa, Modder en Bloed, Momentum en Maze Runner: The Death Cure), is die ander hoofkarakters. Die beroemde “lion whisperer”, Kevin Richardson, het in sommige aksietonele, waarby sy leeus betrokke was, bystand verleen.
Kyk gerus die lokfilm: