Vlog vol waarheid: Wanneer dinge nie gebeur soos beplan nie

Mauritz Zietsman (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Psalm 37:7 – “Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie.”

Geduld is beslis nie een van my sterkste eienskappe nie. Ek reken ek het laaste in die ry gestaan toe geduld uitgedeel is of dalk sommer heeltemal die ry gemis.

Toe ek van Vanderbijlpark na Johannesburg verhuis het, het ek vinnig besef hoe min geduld ek het. In Vanderbijlpark is daar byna nooit swaar verkeer nie en in Johannesburg is daar permanent verkeersopeenhopings!

Al bestuur jy dalk nog nie self nie, weet jy waarskynlik hoe nare ding die pad kan wees. Mense se ware karakter kom gereeld agter die stuurwiel van ʼn motor te verskyn wanneer daar swaar verkeer is of as iemand voor jou inry by ʼn verkeerslig of stopstraat.

Kom ons wees eerlik met mekaar: Die probleem hier is nie slegs dat ons nie genoeg geduld het nie. Die eintlike oorsaak van die probleem is dat ons nie daarvan hou om nié in beheer te wees nie.

Wat bedoel ek hiermee?

Ons hou daarvan om in ʼn mate in beheer te wees van die dinge wat in ons lewens met ons gebeur. Die meeste van ons beplan ons toekoms vooruit – wat jy wil gaan studeer, watter werk jy eendag wil doen, op watter ouderdom jy wil trou en hoeveel kinders jy wil hê. Ons beplan selfs kleiner goedjies soos wat ons vanaand gaan eet of wat ons planne vir die naweek is.

Wanneer dinge egter nie uitwerk soos ons beplan het nie, raak ons sommer ongeduldig met almal rondom ons, so asof hulle die oorsaak is dat dinge nie gebeur het soos ons gedink het dit gaan nie. Ons blameer die verkeer as ons laat is, blameer ons vol skedules as ons nie tyd kry vir daardie taak nie en blameer die afrigter as ons hierdie wedstryd nie goed gespeel het nie.

Ek is nie hier om foute uit te wys nie, maar ek wil wel vir jou wys dat ons nie regtig altyd in beheer is nie. Ons besef baie vinnig in die lewe dat ons nie in beheer is nie wanneer ons dalk ʼn geliefde aan die dood moet afstaan of nie bereik wat ons graag sou wou bereik in die skool of by ons werkplek nie.

Maar hierdie is die goeie nuus. Die Here nooi ons uit om by sy voete te kom sit en geduldig te wag op Hom vir leiding en rigting in ons lewe. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek sê nie hiermee dat ons nié moet beplan vir die toekoms nie. Wat ek wel sê is dat die Here reeds in die toekoms is en dat ons net die tyd moet vat om by Hom te hoor waarheen ons moet gaan en watter keuses ons moet maak in die lewe, as dat ons elke dag daaroor stres en slapelose nagte daaroor het.

Ek wil jou uitdaag om al jou vertroue in Jesus te plaas, om te wag op die Here wanneer jy belangrike keuses moet maak en te vertrou dat die lewe sal uitwerk soos dit moet as jy jou lewe voor Hom neerlê. Ek weet dis nie maklik nie, maar ek glo dat jy dit kan doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marinda ·

Mens wik, maar God beskik. Alles in Sy tyd

Ek het net besluit, planne maak ek nie meer nie. Beplanning val altyd uit die bus.
Dis nou God se wil of ons bietjie weg breek na die kinders toe, see toe. Of ons more sien.

Aanvaarding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.