Gedagte vir die dag:  Vrede wat ánders is

bankie-meer-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. (Johannes 14:27)

In hierdie teksgedeelte is Jesus besig om sy dissipels voor te berei oor sy weggaan met die gerusstelling dat Hy vrede vir hulle nalaat. ’n Ander soort vrede. Want, het Hy dikwels gesê, sy soort vrede is nie die afwesigheid van konflik nie. Nee, soms, wanneer dinge teen sy waardes soos respek, menslikheid, goedheid, vergifnis en deernis ingedruis het, het Hy hom ernstig daaroor uitgespreek. Goeie konflik veroorsaak.

Die vrede wat Hy bring, is die teenwoordigheid van genade en liefde. Ook wanneer ons soms op ons waardes moet vasstaan, kan ons vrede hê wanneer ons die verskille uitleef binne sy wil en met sy soort wysheid en begrip. Daarom moet ons gereeld bid vir die onderskeidingsvermoë van wanneer goeie konflik nodig is en die genade om te weet hoe om dit te hanteer.

Haal sommer net op hierdie oomblik diep asem en neem met elke asemteug die Vredevors se soort vrede in.

Heilige, ek verlang na u diep vrede. Om my. In my. In my hart. In my gedagtes. My dade. En veral in my woorde.

Bron: Krag vir elke dag deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.