Gedagte vir die dag: Ware skoonheid is nie oppervlakkig nie

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde. (1 Petrus 3:3-4)

Daar is ’n verhaal wat vertel van ’n sesjarige dogtertjie wat eenmaal vir haar mamma gesê het: “Mamma het so ’n mooi gesig, maar sulke lelike hande.” Toe vertel haar mamma vir haar waarom haar hande so vol letsels is. “Op ’n dag was ek besig om wasgoed op te hang terwyl jy in jou wiegie in die kamer gelê het. Ek het rook geruik en skielik besef die huis is aan die brand. Ek het die huis ingestorm en die vlamme om jou bedjie met my hande begin doodslaan sodat jy niks moes oorkom nie, maar in die proses het my hande verbrand. Ek het al ’n hele paar operasies gehad, maar dit het nie veel gehelp nie.”

Die dogtertjie het met trane in haar oë haar mamma se hande vasgegryp en gesê: “Mamma se gesig is vir my pragtig, maar noudat ek weet, is jou hande vir my nog mooier as jou gesig.” Die dogtertjie het daardie dag besef wat ware skoonheid werklik is, dit is soveel meer as net ’n mooi gesig.

Sy het elke dag haar mamma se hande gesoen en met nuwe oë na haar gekyk. Dit wat nooit werklik vir haar mooi was nie, haar mamma se hande, het nou vir haar mooier as enigiets geword wat sy nog ooit gesien het.

Hierdie verhaal illustreer so mooi wat werklike skoonheid is en dat dit veel dieper as oor die oppervlak van ons vel gaan. Die gedeelte uit 1 Petrus plaas nie ʼn verbod op uiterlike versiering of dat ons ons nie mag mooi maak nie – nee, dit stel dinge net in perspektief en beklemtoon dat ware skoonheid in die eerste plek om innerlike welsyn gaan en daarna om die versorging van die liggaam.

As Christen behoort ek nie aan myself nie maar aan God, en daarom moet ek my liggaam na die beste van my vermoë versorg. Ek moet God met my liggaam en gees dien.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cecile Engelbrecht ·

Baie mooi, en laat my weer besef dat die uiterlike nie belangrik vir Hom is nie.
Baie dankie vir die stuk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.