Gedagte vir die dag: Wie is God vir my?

baba_hand_pappa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jesus sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom, en hier is Ek nou.” (Johannes 8:42)

Jesus het eintlik ’n nuwe Godsbeeld vir die Jode gebring deur na God as “Vader” te verwys – ’n beeld wat in die Ou Testament net enkele kere voorkom. Onthou, elkeen sien God op sy eie tipiese manier – elkeen het ’n “prentjie van God”, ’n Godsbeeld. Hierdie Godsbeeld is natuurlik my eie, menslike idee van God, dis nie God self nie; daarom moet ons ons eie Godsbeeld ondersoek en ken.

Dink ’n bietjie aan die volgende: Wat was jou Godsbeeld as klein kindjie, as ’n tiener, toe jy tot bekering gekom het, wat is dit nóú? Wat is die Godsbeeld van jou ouers, jou geestelike tradisie, jou kerk? Hoe het jou ervaring van jou pa jou Godsbeeld beïnvloed en gevorm? Verstaan ook dat ons Godsbeeld verkeerd kan wees – dit kan skeefgetrek word deur ons persoonlikheid, omstandighede of ervarings.

Bou jou Godsbeeld op dit wat die Skrif – veral Jesus – vir ons oor God sê. Onthou dan ook dat God baie meer en baie groter is as jou Godsbeeld!

Almagtige God, help my om U te verstaan soos U is – maar ek weet dat U ook baie meer is as wat ek ooit, ooit kan verstaan! Amen.

Bron: Hier is ek, Here deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here Jesus, my Meester en my Redder dat ek ongesiens mag vertrou ten volle

FM ·

Ek weet verseker dat ons Here ver bo my begrip is. Voorwaar geseënd om uit ‘n ouerhuis te kom waar dit aan ons daagliks die troue liefde van God voorgehou is.
God is soewerein, heilig, almagtig, getrou.
Amen

Japie ·

Elkeen het sy eie Godsbeeld, stem saam. Soos ons nader aan God leef hoe duideliker word die werklikheid en eendag sien ons Hom ten volle soos Hy dit toelaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.