Wie is Raka?

Verskaf aan Maroela Media

Verskaf aan Maroela Media

Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters. Toe het God gesê: Laat daar lig wees.” Genesis 1:2, 3

Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere op die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Genesis 1:28

NP van Wyk Louw het in 1941 ʼn epiese gedig, “Raka”, gepubliseer. Dit is beslis een van die meesterwerke in Afrikaans, wat bykans sewe dekades later steeds die verbeelding aangryp.

Van Wyk Louw vertel die verhaal van ʼn ondier, Raka, wat ʼn gemeenskap iewers in Afrika in ʼn bestaanskrisis gedompel het.

Op ʼn dag het Raka onverwags sy opwagting gemaak.

Die vroue het hom die eerste gewaar 
in die loom namiddag toe die arbeid klaar 
was…

Oorkant die water het hy uitgestap
uit die gebreekte riete,
wit gegryns en, neergehurk, gewag
.

Daar was iets verleidelik, selfs vriendelik aan sy teenwoordigheid.

  • Sy sensualiteit het vroue bekoor. Met geskenke stel hy die vroue gerus:ʼn jong bokkie en vrugte en neute en soet riet.”
  • Sy stuitige speelsheid het kinders nader gelok: “Te midde van hulle vrees het hy hulle behaag met sy mal spronge…”
  • Sy brute krag het mans geïmponeer: “Die jagters wis wat krag was en hulle het gevrees.”

Raka het die gemeenskap betower, maar ook bang en onseker gemaak. “Raka het soos ʼn hond pal om die kraal gehou. Raka het uit sy lêplek opgekom en gegluur na die gloed en die rooi strepe van die vuur. En dan het hulle gehoor ver en verdrietig, in die mis verloor sy huil soos van ʼn dier, of skielik na en skerp sy strandjut lag, dan klae en sagte snorke weer. As die kole koud word het hulle gehoor hoe hy hard in die nag aan die dun pale snuif.”

Net een was stom en het ver buite die digte drom” gestaan. Die jong prins, Koki, “die slank speler met sy spies”, wat “in sy hart gewaar dat hy hier aan ʼn grens was, ingeperk teen iets wat donker is en dom en sterk.”

Die aand om die vrolike vuur het Koki gewaarsku: “Raka, die groot dier, moet dood. Die dier sal nie van julle wyk; hy kruip na julle vure toe, waar julle kinders speel hou die wag, totdat niemand meer wild is vir sy bot hand nie.”

Dit is Koki wat Raka ontmasker as die vraagsugtige, wettelose  verwoester van beskawing. Hy vra:

“Ken Raka, hy die sterk dier, ons fyn, fyn net van die woord, waarmee ons blink en vet visse uit baie waters haal?
Ken hy die vuurgeheim?

Het hy die vaal drade van die katoen leer spin en weef en in die kleurpot week?
Het hy leer leef onder die wette wat ons oudstes sing?”

Koki waarsku: “Die snel dier moet dood, of hy sal heers oor ons en groot en lang pyn bring.”

Die reaksie van die mense was nie soos wat hy gehoop het nie:

“Raka is vreedsaam… Raka is nie sleg… soos hy gekom het gaan hy weer weg.”
Net Koki, hoog en eensaam, het in ʼn dans stil begin gaan… die dans van die wat sterf en geen hoop meer wil hê.”

In die onvermydelike geveg teen Raka sterf Koki. Die vroue het getreur: “Die skoonste het gesterf, die edelste wagter lê koud langs die vuur. Wie nou sal red teen die groot dier wat wag? Wie sal belet dat hy inkom en heers?”

Die hek se rieme was slap gebind  
 En Raka, die skelm dier, het opgestaan.”

Met woedende wraak het hy die gemeenskap oorrompel en oorheers.

“Niemand het dit gewaag om met een slag die smal hek ooit weer teen hom te sluit.”

Wie is Raka?

  • In 1941 het sommige gesê dit is Hitler.
  • Ander het bespiegel dat Raka witmense met Westerse waardes was wat Afrikakultuur vernietig, of swartmense wat met Afrikawaardes Westerse kultuur verdryf.
  • Nee, het sommige gesê, Raka is die Amerikaanse kultuur wat die fyn beskawing van Wes-Europa oorweldig met die kitskultuur van Coke en hamburgers.
  • Sommige het gesê dit is kommunisme.
  • Ander het gesê Raka is die Nasionale Party en apartheid
  • of Raka is die ANC, met hul harde transformasie-ideologie en rasse-kwotas.

Vir Van Wyk Louw was Raka veels te kompleks, te veelkantig vir so ‘n oppervlakkige oplossing. Raka skuil ook in elkeen van ons.

  • Soms skuil Raka in die donker emosies van moedeloosheid, sinloosheid en angs wat ons minderwaardig en onseker laat.
  • Soms skuil hy in die donker bosse van selfvervreemding en die diep duister poele van Godsvervreemding.
  • Ander kere verskyn Raka in die meerderwaardige selfsug van die eie-ek wat begeer en vat waarvoor ek nie wou werk nie.

Raka skuil ook in die donker kante van elke gemeenskap en kultuur.

  • Soms is Raka in die grys mis van tevredenheid met middelmatigheid.
  • Raka is in die verleidelike wat kras en kru as skoonheid aangebied word.
  • Raka is in die kulturele kragte van minderwaardigheid en meerderwaardigheid wat oor eeue teen mekaar druk en stoot.
  • Daar was tye in ons geskiedenis, soos nou, waar ons die geweld van Raka se verwoestende krag aan ons taal- en kultuurlyf voel.
  • Daar was ook tye waar ons Raka vir ander was.

Die betekenis van sy naam is vir ons ʼn leidraad wie Raka is.

In beide Aramees en Grieks beteken Raka – domkop, die leë een, ʼn idioot, niks. Raka is ook ʼn kragwoord wat beteken: Ek spoeg op jou. In Matteus 5:22 waarsku Jesus: “elkeen wat vir sy broer sê Raka moet verantwoording doen aan die Groot Raad.”

Raka skuil agter baie maskers. Soms skuil Raka agter ʼn idee, ʼn filosofie, ʼn beleid, ʼn persoon, ʼn emosie. Inderwaarheid is Raka niks meer as ʼn idioot, ʼn dom, sterk boelie nie.

  • Hy is die boelie wat soos ʼn idioot spoeg op alles wat goed en mooi en uitnemend is.
  • Hy is die geslepe boelie wat met verleidelike geskenke gerusstel en manipuleer.
  • Hy is die boelie wat mense en gemeenskappe roekeloos van binne en buite breek.

Raka breek en breek totdat die ganse skepping, mens en dier, deur sy verwoestingswerk na sy gelykenis van  onbewoonbare leegheid getransformeer is.

Ons sien orals die spore van die idioot wat teen ons heinings “snork en snuif” en die merktekens van die boelie se breek. Dit is nie nodig dat ons soos Koki met die wanhopige en fatalistiese dans van die dood begin nie. Dit is ook nie nodig dat ons storie met ʼn treurlied na ʼn slagveld eindig nie.

Aan die begin van tyd neem God self “die skild en skerp assegaai” teen Raka op. Die wêreld was woes en leeg, maar God het gesê: “Laat daar lig wees.” In Johannes 1 het die Skeppingswoord mens geword en onder ons kom woon. “Die lig skyn in die duisternis en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” Aan die begin het God die mens geseën en gesê word vrugbaar, word baie, want julle moet die aarde bewoon, bewerk, bewaar. Later het die mens dit die kultuuropdrag genoem. Wat is kultuur anders as om daagliks skeppend te werk en terselfdertyd  kosbare erfgoedere in beskerming te neem?

Met die kultuuropdrag roep God ons tot ʼn groter geveg, die geveg tussen God en Raka. Die geveg tussen lig en duister, tussen orde en wanorde, tussen beskaafdheid en onbeskaafdheid, tussen kultuur en natuur, tussen hoop en wanhoop. Ons skild en assegaai is pen en papier, ʼn skaaf en troffel, ʼn ploeg en ‘n skaar. Dit is die klein beiteltjies waarmee ons ʼn toekoms bou.

God se kultuuropdrag aan ons om skeppend te werk, is ʼn opdrag

  • om te bou, nie te breek nie,
  • om te bewaar, nie te vernietig nie,
  • om te heers, nie te oorheers nie.

Dit is ʼn opdrag om lig te wees.

Deur ʼn kultuur van skeppende werk, volg ons in die spore van die groot Boumeester. Die Boumeester wat in ʼn tuin begin bou het. Die Boumeester wat uit die chaos van die eeue vir Hom ʼn kerk bou. ʼn Koninkryk bou. ʼn Stad bou.

  • Elke stukkie bouwerk, huis of kerk, skool of organisasie is ʼn steen in God se bouplan.
  • Elke stukkie skeppende werk, die fyn weef van ʼn gedig of boek, die kleur van ʼn skildery of die klank van ʼn lied, is ʼn skild teen die idioot se minagtende spoeg op skoonheid.
  • Elke liefdevolle, ondersteunende woord, elke getuienis oor toekomshoop is ʼn assegaai wat teen die boelie se afbreek gewerp word.
  • Elkeen wat sy potentiaal deur uitnemendheid verwerklik, wat met die troffel in die hand sy verantwoordelikheid teenoor gesin en gemeenskap nakom, is ʼn lig wat skyn in die donker.

Geen dom of sterk boelie, hoe geslepe ook al, kan die lig uitdoof nie.

Kom ons bou. Kom ons werk. Kom ons bewoon en bewaar. Kom ons droom.  Totdat ons by die feesmaal van die Lam aansit, waar ons die oorwinning van God oor Raka vier.

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Lee-anne ·

wow, dis wat ek graag vir my kinders wil leer; die lewensles wat ek sal wil hê hulle altyd onthou en waarvolgens hulle leef. Dit begin seker by my…

Piet Pompies ·

Raka was ons Afrikaanse voorskrif boek, die lees van die berig het my terug geneem na my jare op skool. Ek kan Raka onthou as die persoon (dier) wat bang was vir die groter mans en die jonger mans, vrouens en kinders beinvloed het met valse tog mooi planne. Nadat hy die meerderheid aan sy kant gehad het, het hulle probeer om die ouer mans te verslaan.

Dankbare mens. ·

Die wyse ouvroue was ook nie gewild maar het oorleef agv wysheid en Kennis.

AmY ·

Ons het hierdie gedig en boek op skool gedoen. Goeie ou dae.

Jurie Viljoen ·

Ek ken vir Raka omdat ek alle gedigte lees. As my verbeelding die loop neem dan is Raka egter ‘n vroulik stouter wat skreeu as sy tennis speel.

Lidia Verbeek ·

Ek het as Raka op universiteit ontmoet. As jongmens, het baie vd gelaagdheid my verbygegaan. Vandag egter kan ek die onrus wat ek voel, Raka noem. Die geestelike slawerny, die vasgevangheid in wette vd tyd & die ware begrensheid vd oppervlaktheid v ons moderne bestaan, ‘n Raka-paradigma noem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.