Gedagte vir die dag: Woorde en die Woord

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. (Johannes 1:14)

Ons wêreld word deur woorde gevorm, en ingekleur deur die betekenis wat ons daaraan heg. Soms is dit ’n doodeenvoudige woord en sal niemand stry oor presies wat dit beteken nie. Tafel. Motor. Boom. Geen ruimte vir misverstand nie.

Dan is daar woorde wat jy met honderd ander kan omskryf en steeds nie die volle omvang daarvan kan raakvat nie. Veral as so ’n woord ’n gevoel beskryf, iets wat in ’n mens se hart gebeur. Liefde. Vreugde. Dankbaarheid. Hier is hande vol moontlikhede!

En dink nou maar aan “dankbaarheid”. Dis ’n emosie. Dis ook ’n deug, ’n vaardigheid, die motivering vir wat ons doen. Dis ’n gemoedstoestand, ’n houding.

“Dis ál hierdie dinge – en soveel meer!” sê dr Robert Emmons, ’n voorste navorser op dié gebied.

Dankbaarheid is ook ’n reaksie op iets wat jy ontvang; dis ’n soort waardering. En dan nie omdat jy dit gekoop of daarvoor gevra het nie, maar omdat dit aan jou gegee is en streng gesproke nie aan jou verskuldig was nie.

Ja, ons wêreld word deur woorde gevorm. En dit word ryker, inniger en kleurryker gemaak deur die ervaring van daardie woord. Jy moet dit voel en leef. En dít kry jy slegs reg as jy daaroor nadink en doelbewus daarna soek. Net op dié manier kan jy die omvattende betekenis daarvan verstaan, en net só kan jy dit uitleef terwyl jy verder daaroor leer.

Dalk lê die beste verstaan van dankbaarheid opgesluit in die ander woorde waarmee ons dit beskryf, soos “gratitude” of “thankfulness” in Engels. Erkentlikheid, waardering, dank, lof. “Dis om jou toe te lê op die bewuswording van die klein, voorheen onopgemerkte dingetjies in jou dag,” sê Mark Williams, ’n kliniese sielkundige in Oxford.

En dalk lê die diepte van dankbaarheid in die belewing van die emosie wat dit beskryf, of in die reaksie op die emosie wat dit in ons wakker maak. Die uitspreek van dít wat in ons hart gebeur wanneer ons dankbaar is.

Die werklike omvang van hierdie ryk woord se betekenis lê egter opgesluit in die Woord self. In Jesus Christus, die Woord wat mens geword het en tussen ons kom woon het (vgl. Joh 1:14). Hy is die Woord wat elke ander woord vir ons oopbreek sodat ons insig in die volle betekenis daarvan kan kry.

Here Jesus, dankie dat ek by U kan leer wat dankbaarheid alles behels.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

OWO ·

Die woord dankbaarheid het ‘n baie groot omvangrykheid.Wat ook nie uit die oog moet verloor word nie,betreffende dankbaarheid is dat dit God se wil is,maw God verwag dit van ons om elke dag uit dankbaarheid te leef.1Tessalonisense 5:18

Lena Jonk ·

Ek glo ook, wie elke sonstraal met danbaarheid geniet, sal ook in die skaduwee kan leef. Dankbaarheid is ook die blydskap vir ons lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.