Verbruikersake: As jou nuwe bed breek

bed-beddegoed-kussings

Foto: Martin Castro/Unsplash.com

Mens bring omtrent ’n derde van jou lewe in jou bed deur en daarom is dit ’n baie belangrike transaksie wanneer jy ’n bed aanskaf. Dit ook ’n transaksie wat jou baie woede en pyn kan veroorsaak wanneer jou bed breek en dit nie lyk asof enigiemand verantwoordelikheid daarvoor wil aanvaar nie. Om alles te kroon, verstaan min mense waarvoor daardie “guarantee” en “warranty” wat jy saam met die bed gekry het, nou eintlik beteken. Ina Opperman verduidelik wat dit beteken en wat jou regte is.

Vir die meeste mense beteken guarantee en warranty bloot ’n waarborg, maar bedmakers het hul eie verduideliking vir hierdie twee terme. Wanneer jy hul verduideliking verstaan, sal jy ook verstaan waarom jy nie sommer ná vyf jaar ’n nuwe bed kan kry as joune breek nie.

Die tydsduur van die warranty dui nie aan hoe lank jou bed moet hou nie, maar is eerder ’n aanduiding van die gehalte van die bed. ’n Lewenslange warranty op jou bed dui eerder aan dat dit van beter gehalte is.

Die Guarantee (waarborg)

’n Guarantee in bedmakertaal beteken gewoonlik dat die vervaardiger op sy koste enige probleme sal oplos wat jy met die bed het, binne die waarborgtydperk. Gedurende hierdie tydperk, wat gewoonlik ’n jaar of twee is, word beddens wat probleme gee, gewoonlik net vervang. Net swak vakmanskap en swak materiaal word gedek. As jou nuwe bed jou dus rugpyn gee sonder dat dit enige defekte het, word dit nie deur die guarantee gedek nie.

Die Warranty (sekerheid)

’n Warranty tree gewoonlik in werking wanneer die guarantee verval en kan duur van een jaar tot soveel as 25 jaar of selfs lewenslank, hoewel niemand juis bepaal wie se lewensduur hier gedek word nie. Wanneer jou bed in hierdie tyd probleme gee, moet die vervaardiger jou bed herstel of vervang volgens sy interne beleid, waarvan jy ’n afskrif moet kry wanneer jy die bed koop.

Bedmakers maak gewoonlik ’n sommetjie om te bepaal hoeveel jy kan eis deur die waarde van jou bed te deel deur die aantal jare wat die warranty bepaal om ’n prorata bedrag uit te werk, wat jy kan gebruik om korting te kry op ’n nuwe bed of om herstelwerk aan die bed te doen.

As jy dus agt jaar gelede ’n bed gekoop het vir R5 000 met ’n warranty van tien jaar en ’n guarantee van twee jaar, sal jou proratabedrag R2 000 wees. Die sommetjie lyk so: R5 000 gedeel deur 10 jaar = R500 x 4 jaar (10 jaar minus die 6 jaar wat die warranty al geld) = R2 000.

Hou egter die volgende voorwaardes wat gewoonlik gestel word, in gedagte:

  • Gewone slytasie word nie gedek nie;
  • Die vervaardiger besluit of die bed herstel of vervang word, nie jy nie;
  • Die bed word net vervang met dieselfde of soortgelyke model;
  • Beddens moet gebruik word ooreenkomstig die gebruikspesifikasies. As jy te swaar is of die kleinkinders gereeld toelaat om op die bed te spring, kan jy jou nie beroep op die warranty
  • Die bed moet ook skoon wees en nie vol vlekke nie.
  • Die bed moet reg onderhou word volgens die vervaardiger se raad, soos om dit gereeld te om te draai.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Verbruikers se regte, wat vervat is in die Wet op Verbruikersbeskerming, kom egter eerste.

Artikel 55

Hierdie artikel gee jou die reg om te verwag dat die bed van goeie gehalte is en dat jy lekker daarop sal slaap. Die bed moet in ’n goeie werkende toestand wees, sonder enige defekte en jy moet dit vir ʼn redelike tydperk kan gebruik sonder dat dit breek.

Artikel 56

Volgens artikel 56 het jou bed ʼn versweë waarborg dat dit voldoen aan die vereistes en standaarde van artikel 55. Die versweë waarborg dek jou bed vir die eerste ses maande nadat jy dit gekoop het en jy kan dit aan die handelaar teruggee op sy onkoste en risiko, indien dit nie aan die vereistes en standaarde van artikel 55 voldoen nie. Die bed moet dan herstel of vervang word, of jy moet jou geld terugkry.

Artikel 57

Indien die bed herstel word, het die herstelwerk volgens artikel 57 ’n waarborg van drie maande. Indien jy dan binne drie maande steeds vind die bed het ’n defek, moet die winkel dit vervang of jou geld terugbetaal. Hierdie waarborg op herstelwerk dek nuwe of herboude dele en die vakmanskap.

  • Die woorde guarantee en warranty is in Engels gebruik omdat dit duidelik twee verskillende dinge in hierdie geval beteken en nie bloot net “waarborg” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Gebruikerspesifikasies? Dit se niks van
die growwebrood van n gesonde huwelik nie.

GM ·

Haha, Eish, solank die kleinkinders nie op die bed spring nie ;-)

Willem ·

Ons weet. Vir onvoorsiene gebeurlikheid het ons eenkant ‘n groot sponsmatras waarop ons kan rits en ons furstasies uit haal. Dan spaar ons op Edblo Fantasy.

Jan Nel ·

Maroela, u kan gerus vra dat die skrywer miskien ook iets oor die gemeenregtelike waarborge en aksies skryf. Hulle is nog steeds van toepassing in sekere omstandighede en kan ‘n waardevolle hulpmiddel wees, waar die CPA nie voldoende beskerming bied nie.

Cherokee ·

Dit klink nie asof Weight Watchers enige rol speel in die waarborg nie.

John ·

Hierdie opstel verdien 12 uit 10… Geniaal! Slimkop! Die beste deel staan tussen die lyne… Sit ‘n bril op en lees… Geluk aaan die skrywer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.