Vroue vat hande, verleen glans aan Karoodorp

Lizel en Janine het vinnig soos sussies geword. (Foto: Verskaf)

Die Karoodorp Richmond is bekend vir sy geskiedenis, natuurskoon en veral as een van verskeie stilhouplekke waar Gautengse vakansiegangers jaarliks hul bene rek op die lang pad Wes-Kaap toe.

Maar danksy ʼn mooimaaksessie en toevallige ontmoeting is ʼn bietjie glans onlangs aan dié Karoodorp verleen.

Lizel van der Westhuizen, eienaar van Full Circle Image Consulting en modestilis op kykNET se mooimaakprogram Glam Guru, en Richmond-inwoner, Janine Theron, het pas hul splinternuwe winkel, Boetiek, in dié dorp geopen.

Dié voorkomskonsultant en Karoo-sakevrou se paaie het in Mei vanjaar gekruis toe Janine vir Lizel na Richmond vir ʼn voorkomswerksessie genooi het.

“Ek het ʼn rowwe twee jaar agter die rug gehad. My konstruksiemaatskappy is weens die Covid-19-pandemie gesluit en ek het besluit om Lizel te nader om my en die ander vroue in die dorp se selfvertroue ʼn hupstoot te kom gee,” vertel Janine.

Dié twee sakevroue het dadelik by mekaar aanklank gevind danksy hul gedeelde passie vir vrouwees en mooimaak.

Die Boetiek is in Richmond geleë. (Foto: Verskaf)

Ongelukkig bied plattelandse dorpe nie veel verskeidenheid in dié verband nie. “Selfs die buurdorpe het dieselfde een of twee kettingklerewinkels,” vertel Janine, wat jare lank al hier woon.

“Ons smag al lank na ʼn plek waar ons mooi klere kan koop, maar ook gemaklik, tuis en welkom voel en Lizel is ʼn kenner op dié gebied.”

Die vroue het twee en twee bymekaar gesit en só het die idee vir Boetiek ontstaan.

Hul “vroue-oasis” het ook vinnig die lig gesien en sy deure op 1 November vanjaar geopen. Hier word alles van klere, skoene, bykomstighede, grimering, badprodukte en parfuum verkoop.

“Alle produkte is trots Suid-Afrikaans en vier vrouwees. Daar word ook net ʼn sekere hoeveelheid van party produkte gemaak, daarom is daar ʼn bietjie eksklusiwiteit aan die produkte wat ons verkoop. Ons doel is om vroue te inspireer om hulself te wees en hulle unieke eienskappe te vier as hulle ons kom besoek,” sê Lizel.

Dié voorkomskenner het in Mei vanjaar ook ʼn plusgrootte-modereeks (tussen nommers 38 en 46) vir vroue bekendgestel en vertel dat Boetiek dus soos ʼn natuurlike uitvloeisel van daardie inisiatief gevoel het.

Janine, wat tans ook ʼn stryd teen oogkanker voer, is volgens Lizel nou een van haar grootste inspirasies.

“Sy ken die hart van vroue wat deur swaarkry gaan. Sy is ʼn inspirasie vir my, juis omdat ek ook lief is daarvoor om vroue te kroon en op te beur. Ons passie maak ook van ons wonderlike sakevennote.”

Janine noem Lizel ook haar “engelsus” vanweë die wyse en tyd waarop hulle mekaar ontmoet het.

“Ek was nie op ʼn goeie plek toe ons ontmoet het nie, maar het geweet die Here sal ʼn deur vir my oopmaak. My ‘engelsus’ is toe gestuur en daarom is Boetiek een van die grootste blessings in my lewe.”

  • Besoek Boetiek by Loopstraat 44, Richmond.
  • Bestel van hul produkte aanlyn by boetieknc.co.za.
  • Volg Boetiek op Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.