Waar daar nie rook is nie, is daar nog vuur?

Dr Daniel Malan. Foto: Verskaf

deur Dr. Daniel Malan

Tabakvrye Wêrelddag vind plaas op 31 Mei. Die skade wat tabak veroorsaak, word wyd verkondig en slegs enkele van die skrikwekkende statistieke word hier genoem. Op hierdie dag alleen sal meer as 13 000 mense wêreldwyd sterf as ʼn direkte gevolg van tabak.

ʼn Kwart van alle lewenslange rokers sal op middeljarige ouderdom omkom, en volgens ʼn studie van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde State se Nasionale Kankerinstituut wat vroeër vanjaar gepubliseer is, kos rook die wêreldekonomie meer as $1 triljoen per jaar — byna vier keer die bedrag wat deur tabakaksynsbelasting gegenereer word.

Die tipiese reaksie op so ʼn dag is om die belangrikheid van die WGO se Raamwerkkonvensie oor Tabakbeheer (Framework Convention on Tobacco Control [FCTC]) te versterk. Die FCTC het in 2005 in werking getree en is wetlik bindend in 180 lande. Dit fokus op die produksie, verkoop, verspreiding, reklame (advertensies) en belasting van tabak. Daar is geen twyfel dat maatreëls om die vraag na en verspreiding van tabak te verminder, belangrik is nie en dat die FCTC ʼn positiewe invloed gehad het, maar net tot ʼn punt. Mense wat vandag weens tabak sterf, is ʼn aaklige herinnering aan hierdie feit.

Een bykomende strategie ten opsigte van tabakbeheer is skadevermindering. Hierdie strategie verdeel die mediese gemeenskap en verdien meer blootstelling. Dit is gekoppel aan die logika wat meer as 40 jaar gelede deur prof. Michael Russell, die Suid-Afrikaans gebore pionier op die gebied van rookgedrag, verwoord is, naamlik dat rokers vir nikotien rook, maar deur teer tot ʼn einde kom.

Eenvoudig gestel, word die vermindering van tabakskade gedefinieer as enige maatreël wat die risiko verbonde aan die gebruik van tabak of nikotien verminder. Sigaretvervangers soos dampprodukte en rooklose tabak is voorbeelde. Die daad van inaseming en uitaseming van die damp wat deur ʼn elektroniese sigaret (e-sigaret) vervaardig word, is een voorbeeld van die gebruik van ʼn dampproduk. Daar is baie ander nikotienvervangingsterapieprodukte op die mark, soos nikotienkougom of -pleisters. Hoewel hulle sommige mense help om op te hou rook, is daar beperkte sukses behaal. ʼn Onlangse studie in Nieu-Seeland het bevind dat e-sigarette meer doeltreffend is as nikotienpleisters vir diegene wat wil ophou rook.

Potensiële voordele van die oorskakeling van sigarette na e-sigarette is ondersoek en ʼn verslag van die Royal College of Physicians in die Verenigde Koninkryk lui: “Grootskaalse oorskakeling na e-sigarette of ander nie-tabak-nikotienprodukte vanaf tabakrook het die potensiaal om byna al die skade van rook in die samelewing te voorkom … om e-sigarette te bevorder … as ʼn plaasvervanger vir rook, is derhalwe waarskynlik ʼn aansienlike gesondheidswins in die Verenigde Koninkryk.”

Ander kenners stem saam. Volgens ʼn studie deur Openbare Gesondheid in Engeland is e-sigarette 95% veiliger as rook, maar byna die helfte van die bevolking is nie daarvan bewus nie. Dr. Derek Yach, voorheen hoof van tabakbeheer van die WGO, het verwys na e-sigarette as ʼn “weg na die goeie”. Prof. Ann McNeil van King’s College in Londen het e-sigarette “a game changer for public health” genoem.

Dr. Scott Gottlieb, die nuwe hoof van die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA), het verlede week die geleentheid gehad om sy personeel toe te spreek en het daartydens baie sterk opmerkings rakende rook gemaak en baie spesifiek  oor skadevermindering: “Ons moet pogings verdubbel om rokers meer te help om tabakvry te raak. Ons moet ook ʼn wetenskaplike basis hê om die potensiaal te ondersoek om huidige rokers aan te moedig wat sukkel om op te hou of wat nie bereid is om op te hou nie, om dan eerder minder skadelike produkte te gebruik. Ons moet kinders te alle tye beskerm teen die gevare van tabakgebruik.”

Om e-sigarette te ondersteun is nie dieselfde as om tabakmaatskappye te ondersteun nie, maar baie teenstanders van tabak weier om die onderskeid te aanvaar. Die redes is onduidelik. Miskien is regerings verslaaf aan aksynsbelange, of dalk het sommige afdelings van die anti-rookgroep ʼn bedryf op sigself geword en het tabak nodig om te kan oorleef. Dit is duidelik dat die debat meer onderskeidend moet word, want daar is ʼn etiese verskil tussen tabakmaatskappye wat sowel sigarette as e-sigarette verkoop en ander produsente wat slegs in die nikotienbesigheid is.

Dit is interessant dat ʼn maatskappy soos Twisp, wat slegs dampprodukte verkoop, geen gesondheidsverwante inligting op sy webwerf insluit nie. Dit het waarskynlik te doen met die gesondheidsdepartement se verwarrende skedulering van e-sigarette binne die Suid-Afrikaanse mark waar ʼn klassifikasie wat verband hou met rookstaking geskeduleer word as S3-stof met die implikasie dat die produk slegs by apteke verkoop kan word. Dit is ironies en waarskynlik wat soveel lede van die tradisionele anti-rookgroepe omkrap, naamlik dat ʼn produk (wat die spesifieke ding vervang wat hulle teenstaan) moontlik meer doeltreffend kan wees as enigiets wat voorheen probeer is.

Dit is verstaanbaar, met die berugte geskiedenis van die tabakbedryf, dat enige produk wat die woord “sigaret” insluit, onaanvaarbaar in ʼn sterk beklemde toon en agterdogwekkend in ʼn meer subtiele vorm gesien sal word.

Die WGO wys daarop dat daar beperkte feitelike bewyse beskikbaar is oor die langtermyn-uitwerking van e-sigarette. Soos die geval is met selfone, sal hierdie bewyse op lang termyn na vore kom, maar dit word bemoeilik deur die feit dat voortdurende, vinnige tegnologiese vooruitgang die bekendstelling van nuwe produkte tot gevolg het. Die bewyse wat tans van geloofwaardige bronne beskikbaar is, blyk oortuigend genoeg te wees, en ʼn mens moet dit bevraagteken waarom hierdie inligting nie meer algemeen bekend is nie.

Daar word verwag dat daar sterk sienings teen e-sigarette sal wees, maar om te weier om bloot na feite van die ander kant te luister, is nie regverdig nie. Die WGO se amptelike verslag oor Elektroniese Nikotienleweringstelsels en Elektroniese Nie-Nikotienleweringstelsels stel voor dat interaksie beperk word en dat vennootskappe met die bedryf verwerp word, asof die maatskappye wat hierdie toestelle vervaardig almal deel van die tabakbedryf is. Hierdie benadering is geensins voordelig nie. Benjamin Meier en Donna Shelley van die Universiteit van Columbia het aangevoer dat internasionale reg ʼn skadevermindering-benadering vir tabakbeheer ondersteun. Hulle dring daarop aan dat “die behoeftes van diegene wat verslaaf is aan nikotien … ʼn nuwe model vereis vir internasionale tabakbeheer: mensereg tot gesondheid”.

Ter wille van meer as een miljard rokers in die wêreld, van wie die meeste verslaaf is aan nikotien en onwillig of nie bereid is om op te hou nie, is ʼn meer praktiese benadering tot e-sigarette nodig. Tegnies is dit korrek om te argumenteer dat dit beter is om heeltemal op te hou as om skade met 95% te verminder, maar so ʼn preutse benadering sal uiteindelik meer skade as goed doen.

Raakvatter-waghonde word benodig vir sowel sigarette as e-sigarette, maar die twee produkte moenie deur reguleerders, lewensversekeringsmaatskappye of ander belanghebbendes verwar word nie. Waar toepaslik, moet ooreenkomste erken word.

Damprook in ʼn teater of ʼn vliegtuig moenie toegelaat word op grond daarvan dat daar geen verbranding is nie. Advertensies wat verband hou met rook behoort nooit op kinders gerig te wees nie en wanneer dit gebeur, moet daar ernstige teenkanting wees. Die integriteit van die maatskappye wat sowel sigarette as e-sigarette aggressief bemark, moet bevraagteken word. Die mediese professie moet toepaslike navorsing doen en ʼn konsensusmening moet nooit verwag word nie. Die oorheersende maatstaf moet wees om besluite te neem wat lewens sal red. Sowel rokers as nierokers verdien dit, en moet daarop aandring.

Dr. Daniel Malan is ʼn voormalige roker en direkteur van die Sentrum vir Korporatiewe Bestuur in Afrika by die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool. Hy doen tans navorsing vir die Africa Harm Reduction Alliance.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Basson ·

Fantasties, maar nog so so gevaarlik vir die mens as koolhidrate (veral verfyn) en grane nie?! :)

Deon ·

So op tabakvrye wêrelddag wil ek graag ook ietsie byvoeg. Rokers dink dat wetgewing bepaal dat hulle buite mag rook. Wetgewing is egter baie duidelik, en bepaal dat `n roker 30m van `n openbare plek af mag rook. Oral sien jy egter eienaars en werknemers van besighede wat nét by hulle besigheid se deur uitstap en dan `n sigarette of pyp opsteek. Ander rokers sorg net dat hulle buitekant `n gebou is om `n sigarette of pyp op te steek. Rokers, dit is nog steeds `n openbare plek , jy MAG NIE daar rook nie.!! En onthou `n parkeerterrein is OOK `n openbare plek, so jy mag ook net 30m van `n parkeerterrein af rook. Rokers steur hulle net eenvoudig nie aan die wetgewing nie en wat se voorbeeld is dit vir kinders as die mense hulle nie steur aan wetgewing nie. Dit is dieselfde as iemand wat oor `n rooi verkeerslig ry, of iets by `n besigheid steel. Al hierdie dinge dra by tot `n misdadige staat. Sies!!!

Steven ·

En watse voorbeeld stel al die oorgewig mense? Daar sterf jaarliks meer mense agv obesity en siektes met oorgewig en vet as rook. Ek sien dikwels vet mense wat orals staan en eet. Daai mense sit my meer af as n rokertjie.

Kobus ·

@Deon , 1) Dis 10m en nie 30 nie, parkeer areas is n openbare plek, maar dan moet die eienaar van die gebied dit as n NIE ROOK AREA verklaar. As dit nie gedoen is nie, mag hulle rook, sodra hull op 10.01 m is. Daar moet dan ook bordjies geplaas word waar almal dit gemaklik kan sien, elke paar meter, afhangend van die grote area.

Bees ·

Dit is nou een ding wat die ANC regering goedgedoen het. Om die klomp stinkendes te verban dat hul op eie ashoop mekaar besoedel.

Suzette ·

Ag regtig ek is al so moeg daarvoor dat rokers elke keer oor die kole gehaal word pleks bepaal hulle, hulle by mense wat dronk bestuur, moordenaaars, verkragters, even die flippen potholes orals maar nee die rokers moet altyd uitgehaal word.

Suzette ·

Ag nee regtig!!! Elke keer word rokers oor die kole gehaal. Pleks bepaal hulle hul aandag op mense wat dronk bestuur en daagliks lewens eis, moordenaars, verkragters even die flippen potholes wat die hele land vol is!!!!! Maar neeeeee haal die rokers uit hulle is die grootste probleem in hierdie land!!! Lagwekkend!!!

Veritas ·

Waaroor gaan al die anti-rokers kla wanneer almal opgehou het rook? Dalk swart bande op motors, wit watte in hospitale of dalkies groen gras in die somer. Nee gits man, kla eerder oor die swak Zim dollar en los ons dampieslaners uit asseblief tog.

Ai ·

Vir my lagwekkend dat mense kla oor ANDER mense se persoonlik keuse om te rook terwyl ons in een van die gevaarlikste lande woon. Dis ook kommerwekkend dat min kan raaksien wat hier aan die gang is.

Die tik rokers is n groter gevaar as die sigaret rokers. Word wakker.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.