Valentynsdag-kompetisie: Hier is die wenner!

Argieffoto (Foto: Karen Warfel/Pixabay)

Ons het die afgelope jaar geleer om die mense vir wie ons lief is, te waardeer. Ons het geleer om spesiale oomblikke te koester en kosbare tyd saam op film vas te lê.

As deel van Valentynsdag-maand het Maroela Media dit goedgedink om ʼn paartjie te bederf met ʼn spesiale fotosessie ter waarde van R2 000!

Ons wou by lesers hoor hoe hulle mekaar ontmoet het – en daar was baie spesiale stories! Van geliefdes wat mekaar op skool al raakgesien het, geliefdes wat jare lank kontak verloor en toe weer ontmoet het, geliefdes vir wie dit met die eerste oogopslag ware liefde was en geliefdes wat mekaar op die dansbaan, op partytjies en by vriende se huise ontmoet het.

Jako Pretorius van Pretoria het met sy storie egter vir hom en sy vrou, Marlize, die fotosessie losgeslaan.

“Ek het as persoonlike afrigter in die gimnasium gewerk,” het hy geskryf. “Marlize, nou my vrou, het my gereeld kom vra vir hulp met sekere oefeninge, waar ek graag gehelp het.”

Jako was egter in daardie stadium in ʼn verhouding met ʼn ander meisie, en Marlize het gretig vir hom verhoudingsadvies gegee. “Omdat sy ses jaar ouer is as ek, het ek eers nie besef sy stel eintlik in mý belang nie!”

Hy sê hulle het een Sondagmiddag ʼn afspraak – as vriende – gehad. “Sy bestel toe ʼn Cola tonic and lemonade en ek het gedink dis ʼn baie eksotiese meisie, want ek het nie sulke drankies geken nie, ha ha ha!”

Jako sê die res is geskiedenis en hulle is vanjaar al 17 jaar getroud.

Geluk, Jako en Marlize!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.