Wen: Avontuur, adrenalien wag op kykNET Buite Ekspo-besoekers

Besoekers kan uitsien na puik uitstallings. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Buitelewe-liefhebbers kan hul avontuurlustige vere begin regskud vir die kykNET Buite Ekspo wat tussen 28 en 30 Julie weer in die binneland by die Sondela-natuurreservaat en spa net buite Bela Bela kom kuier.

Dié unieke ekspo is een van die grootste van sy soort in Suid-Afrika en bied iets vir elke sak en smaak, óf jy nou op soek is na jou eerste intreevlak eenmantent, óf wil opgradeer na ʼn luukse woonwa.

Anders as winkels, bied dié ekspo die geleentheid vir kopers om produkte te sien en te ervaar soos wat dit werklik in die natuur gebruik sou word danksy die veilige plaasatmosfeer waarin dit plaasvind.

Hoewel die fokus op die uitstallings is, kan besoekers daarvan verseker wees dat daar iets is wat elke lid van die gesin besig kan hou: van 4×4-ritte en vermaak tot natuurlik die beste buitelewe-produkte.

“Oudergewoonte sal daar ook ʼn snuffelmark, puik vermaak, heerlike verversings en pretparke vir die kleingoed beskikbaar wees, sowel as die kans om ʼn klomp bekende kykNET-gesigte te sien. Ons sê altyd ons doen nie ons werk as besoekers nie die hele dag besig gehou kan word nie,” het Marius Opperman, organiseerder van die kykNET Buite Ekspo, vroeër aan Maroela Media gesê.

Puik plaaslike kunstenaars, onder andere Pieter Smith, Fatman, Soné Joubert, Droom Sindroom, Dewald Dippenaar, Jennifer Zamudio, Arno Jordaan, Pieter Koen, Jakkie Louw en Charne Grabie, gaan danksy Hankook Tyres vermaak tydens dié buitelig ekspo verskaf.

Verskeie kykNET-akteurs van programme soos Diepe Waters en Binnelanders gaan mekaar ook laat les opsê by ʼn potjiekoskompetisie aangebied deur Jimmy’s Steakhouse Sauces.

Hankook 4×4 Estreme-kompetisies, André de Villiers van Andre 4×4 se hindernis ritte, Action Ford Modimole se splinternuwe Ranger Raptor-ervarings en helikopter-ritte is ook op die spyskaart.

Ekspo spog met nuwe aantreklikhede

Rugbyliefhebbers word vanjaar behoorlik bederf danksy die GT Camper Sportpark Ommivuur, waar die bekende Toks en Tjops aanbieder, Hammilton Wessels, en sy gaste rugby sal gesels en stories vertel.

Natuurlik word die Springbokke se kragmeting teen Argentinië in die Castle Lager Rugby-kampioenskap regstreeks op groot skerms uitgesaai.

Vir die heel eerste keer bied GT Camper in samewerking met Trio Events ʼn kykNET Buite Ekspo-gholfdag aan by die Koro Creek Bushveld-gholflandgoed buite Modimolle. Dit vind op 26 Julie in aanloop tot die ekspo plaas. Borge en spelers wat belangstel kan ʼn e-pos na [email protected] stuur.

Wen

Vier gelukkige gesinne (van vier lede elk) staan die kans om dagbesoekerskaartjies vir die kykNET Buite Ekspo te wen. Die kompetisie sluit Sondag 23 Julie om 23:45 en die wenners sal per e-pos of telefonies in kennis gestel word.

Bepalings en voorwaardes:

  • Die kompetisie sluit Sondag 23 Julie om 23:45.
  • Wenners sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenners in verbinding sal tree.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die prys sluit sleg toegang na die ekspo in. Wenners is self vir reis- en verblyfreëlings verantwoordelik.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.