Soorte resepte:

Boekresensie: Kook en geniet (Volledig hersien)

Kook en geniet (Volledig hersien) deur S.J.A. de Villiers word deur Human & Rousseau uitgegee.

Die volledig hersiene weergawe van die uiters gewilde Kook en geniet deur S.J.A. de Villiers is tans te kry op boekhandelaars se rakke. Dié klassieke kookboek het ’n meer moderne aanslag en sal beslis aftrek kry by ’n nuwe generasie kosmakers en bakkers. Dit is ’n gesaghebbende, alles-in-een resepteboek propvol uitstekende advies en maklik uitvoerbare wenke.

Vele Suid-Afrikaners het ’n emosionele verbintenis met Kook en geniet omdat dit al geslagte lank deel van ons ryk koskultuur en -erfenis is. Ma’s laat hulle kopieë aan hul dogters na of koop nuwe weergawes om as kombuistee- of trougeskenke te gee. Die heel eerste Kook en geniet het in 1951 die lig gesien onder die bekwame hande van S.J.A. de Villiers, haar man, Japie, en prof. dr. Mattie Jooste. Die huidige uitgewer het die produksie en bemarking van die kookboek in 1990 oorgeneem. De Villiers verseker haar lesers in die voorwoord van die 1992-oplaag dat al die resepte en basiese inligting vir beginners en jong huisvroue behoue gebly het. Daar het al meer as ’n miljoen kopieë die afgelope 70 jaar verkoop.

Hierdie onontbeerlike staatmaker en gunsteling beslaan 568 bladsye oftewel meer as 700 tradisionele Suid-Afrikaanse resepte wat op ’n netjiese stap-vir-stap wyse aangebied word. Die lokteks op die agterblad lees: “Kook en geniet dek alles wat jy ooit oor kook sou wou weet – van hoe om bestanddele te meet, oonde optimaal te gebruik, groente voor te berei en vleis gaar te maak tot hoe om kos te vries – naas die wye verskeidenheid vertroude resepte.”

Die Inleiding is tjokkenblok vol inligting oor goeie voeding en die samestelling van maaltye en gee ook algemene beginsels deur wat die kok in ag behoort te naam. Daar is ses baie interessante afdelings, naamlik Ontbyt, Ligte Maaltye, Hoofmaaltyd, Geregte vir die teetafel, Allerlei, en Preservering. Elke afdeling is verder verdeel in verskeie hoofstukke. Die Ligte Maaltye-afdeling bevat byvoorbeeld hoofstukke getiteld Sop, Vis, Souse vir vis, vleis en groente, Koue geregte, en Slaaie en slaaisouse.

Ek hou veral van die afdeling wat oor preservering handel. Die wêreldwye pandemie en gevolglike grendelperiode het my opnuut laat besef hoe belangrik dit is om hierdie tegnieke onder die knie te kry, want eet moet ’n mens eet en kos mag nie gemors word nie. Of jy nou wil jellie en marmelade maak of konfyt wil kook, dié afdeling sal jou alles leer wat jy moet weet. Die “hoe” ten opsigte van die voorbereiding van atjar, blatjang en souse, die inmaak van vrugte en groente, die maak van vrugtelekkers, die kristallisering van vrugte en die bevriesing van voedsel word deeglik bespreek.

Kook en geniet het nie volkleurfoto’s in van voorbereide maaltye nie, maar daar is wel netjiese sketse wat wenke en tegnieke illustreer soos byvoorbeeld die afmeet van bestanddele en die opbind van ’n hoender of kalkoen sowel as die voorsny daarvan. Nóg voorbeelde van nuttige inligting vervat in die boek is dié oor plaasvervangers van bestanddele, mengmetodes, gereedskap en toerusting, ens. Die Woordelys help natuurlik om resepte soos Japie se gunsteling, waterblommetjie-bredie of souskluitjies vinnig op te spoor.

Meer oor die skrywer: S.J.A. de Villiers was ’n huishoudkundige by die destydse departement van landbou. Sy het op Stellenbosch gewoon en is in 2010 in die ouderdom van 91 jaar oorlede.

Skaf jou kopie van die volledig hersiene Kook en geniet hier aan. Dit is ook in Engels beskikbaar as Cook and Enjoy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Ek het my Kook en Geniet as verjaarsdaggeskenk gekry op my 16de verjaarsdag. So het al 3 ons kinders ook een gekry op hulle 16de. En 2 is seuns. En hulle gebruik hulle boeke. En so, as ek gespaar bly sal my 2 kleindogters ook elkeen ‘n boek kry op hul 16de verjaarsdae. En my ma gebruik ook, op 85 nou haar Kook en geniet. En hy val al uit mekaar. So ja, Kook en geniet, is ‘n tradisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.