Soorte resepte:

Boerewors, biltong en beskuit in die hartjie van Nederland

Die KuierKos-span (Foto: Voertaal)

ʼn Suid-Afrikaanse paartjie in Haarlem, Nederland, wou nie die lekkerte van Suid-Afrikaanse kos agterlaat toe hulle op die vliegtuig klim om hulle oorsee te gaan vestig nie en het besluit om eerder al dié lekkerste saam met hulle te neem.

Marnella Erasmus en Andreas Döckel vertel aan Voertaal dat hulle lank in hul huis in Haarlem vir hulself boerewors, droëwors en biltong gemaak het en na ʼn paar jaar het Erasmus daaraan gedink om dit professioneel te doen. Sy het die nodige diplomas en permitte daarvoor gekry wat haar toestemming gee om met kos te werk.

In hul huis het die twee toe begin met hul eg Suid-Afrikaanse koswinkel KuierKos. Hulle het lekkernye gemaak en mense kon dit tussen 11:00 en 15:00 by hulle huis kom optel. Die onderneming het so gegroei dat hulle in 2019 ʼn gebou in Bloemendaal, nie ver van Haarlem af nie, kon koop wat hulle as ʼn winkel vir KuierKos kon inrig.

“Ons het hard gewerk om ʼn naam vir onsself te maak. Ons het aanvanklik daaraan gedink om vir mense gratis koffie te gee – meeste van ons kliënte kom immers van ver,” sê Erasmus.

“Maar in een stadium het die tannies van die ouetehuis verder in die pad af gereeld kom koffie drink, al het hulle geen belangstelling in ons produkte gehad nie! Ek het baie gratis koffie weggegee.”

Heerlike beskuit in die hartjie van Nederland (Foto: Voertaal)

Dit was wel die Vetkoek-Vrydae en om Wimpy-ontbyte op ʼn Saterdagoggend te maak wat bekendheid verwerf het en voete na KuierKos gelok het.

Net toe dinge vir KuierKos begin glad verloop, het die Covid-19-pandemie die wêreld getref en Nederland het ʼn tydperk van isolasie ingegaan.

Maar Erasmus was nie afgeskrik nie en het dadelik besef dat mense nie weet wat om te kook as hulle heeltyd by die huis is nie. Sy het toe huiskos soos bobotie, herderspastei, malvapoeding en Peppermint Crisp-roomys voorberei en by mense se huise gaan aflaai.

Sy vertel dat die gevriesde reeks nie beplan was nie, maar dat dit so goed gedoen het dat dit nou permanente deel van KuierKos se reeks sal wees.

KuierKos se trots Suid-Afirkaanse melktert (Foto: Voertaal)

Gelukkig kon KuierKos weer op 1 Julie sy deure oopmaak en hoewel Erasmus nog nie weer kon begin met Vetkoek-Vrydag nie, is sy hard aan die bak van koeksisters, pasteie en koekies en veral om boerewors te maak, wat haar beste verkopers is.

Erasmus het onlangs hulp in die kombuis begin nodig kry en het, in lyn met KuierKos se tema, eg Suid-Afrikaans gebly toe sy Simone Kotze, ʼn Suid-Afrikaanse sjef van Stellenbosch aangestel het.

Behalwe vir Suid-Afrikaanse kos bied KuierKos ook produkte soos eg Suid-Afrikaanse wyn, Castle-bier, Simba-aartappelskyfies, Cadbury-sjokolade, Mrs. Ball’s-blatjang en Sally Williams-nougat aan mense wat ver van die huis af is.

Erasmus sê sy en Döckel is mal daaroor om nuwe mense te ontmoet en om almal se stories te hoor.

Marnella, Andreas en hul kinders (Foto: Voertaal)

“Wanneer iemand Suid-Afrika al voorheen besoek het, is daar ʼn onmiddellike band. In Bloemendaal en Haarlem is daar baie mense wat in Suid-Afrika studeer het, of soos ʼn dokter wat by Tygerberg Hospitaal gewerk het. Nou dat hulle terug is, verlang hulle dikwels terug na ʼn lekker braai saam met hul Suid-Afrikaanse vriende,” vertel sy.

“Maar die hart van ons kliënte is Suid-Afrikaners. Hulle kom van reg oor die land. Party het met Nederlanders getrou, en ander woon al vir jare hier. Almal het hul eie storie, en ons bied hulle iets bekends wanneer hulle ver weg van hul familie en vriende is.”

Bron: Voertaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wilhelm ·

Baie goed, persoonlik sou ek nie daardie lelike vlag op die melktert wou sien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.