Soorte resepte:

3 lekker slaaie vir Braaidag

Slaai met avokado, nartjies en gekaramelliseerde pekanneute (Foto: South African Avocado Growers’ Association)

Vandag is Braaidag! Maak hierdie lekker slaaie saam met jou braaivleis en braaibroodjie.

Slaai met avokado, nartjies en gekaramelliseerde pekanneute

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • 6 ryp avokado’s, ontpit en opgesny
  • 1 rooiui, gesny
  • 2 nartjies, opgebreek in segmente
  • 1 lemoen, in segmente gebreek
  • 100 g gekaramelliseerde pekanneute
  • mikro-kruie vir versiering

Papawersaadslaaisous

  • ½ k heuning
  • ¼ k appelasyn
  • ¼ k papawersaad

Metode

  1. Meng al die slaaisousbestanddele deur dit in ʼn bottel te sit en te skud tot gemeng.
  2. Marineer die skywe rooiui vir 5-10 minute in die slaaisous.
  3. Rangskik die avokado op ʼn slaaibord saam met die nartjie- en lemoenhuisies en pekanneute. Giet die slaaisous en die gemarineerde uie oor die slaai.
  4. Bedien dadelik.

Bron: South African Avocado Growers’ Association (SAAGA)

 

Slaai met artisjokke, palmharte en aspersies (Foto: Braaitreffers deur Lapa-uitgewers)

Slaai met artisjokke, palmharte en aspersies

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele

  • 800 g (2 blikkies) artisjokke, gedreineer en in stukke gesny
  • 800 g (2 blikkies) palmharte, gedreineer en in stukke gesny
  • 410 (1 blik) aspersiepunte, gedreineer
  • 200 g (1 pakkie) swart olywe
  • ½ kop blaarslaai, gewas en gekap

Romerige slaaisous

  • 150 ml kondensmelk
  • 50 ml suurlemoensap
  • 3 ml mosterdpoeier
  • Knippie rooipeper
  • 50 ml room

Metode

  1. Meng al die slaaibestanddele in ʼn slaaibak.
  2. Meng die sousbestanddele saam en giet oor die slaai.
  3. Sit dadelik voor.

Bron: Braaitreffers deur Hannetjie Joubert

 

Chakalaka-boontjieslaai met eiers (Foto: South African Poultry Association)

Chakalaka-boontjieslaai met eiers

Lewer 2-4 porsies

Bestanddele

  • 60 ml (¼ k) botter
  • ½ rooiui, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 2 tamaties, in blokkies
  • ½ groen soetrissie, saadjies verwyder en grofgekap
  • 4 boompies blomkool, gekap
  • 1 wortel, geskil en gerasper
  • 180 g gevriesde mieliepitte
  • 1 rooi brandrissie, ontpit en gekap
  • 5 ml (1 t) kerriepoeier
  • 15 ml (1 e) gemaalde koljander
  • Sout en peper na smaak
  • 1 x 410 g gebakte boontjies in tamatiesous
  • 3 groot eiers, hardgekook en in kwarte gesny

Metode

  1. Smelt die botter in ʼn braaipan en braai die uie en knoffel vir ʼn paar sekondes saam.
  2. Voeg die oorblywende bestanddele, behalwe die boontjie en eiers, by en prut oor ʼn lae hitte vir sowat 10 minute.
  3. Roer die boontjies in en prut tot dit warm is vir sowat 10 minute. Bedien met eierkwarte.

Bron: South African Poultry Association (SAPA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.