Soorte resepte:

Resep: Tradisionele suurlemoen-atjar

Tradisionele suurlemoen-atjar (Foto: Lapa-uitgewers)

Atjar is geskik om saam met enige vleisgereg te bedien. Probeer gerus dié suurlemoen-atjar hierdie vakansie.

Lewer ongeveer 3 bottels atjar van 375 ml elk

Bestanddele

  • 100 ml sonneblomolie
  • 15 ml komynsaadjies
  • 15 ml mosterdsaadjies
  • 1 kg suurlemoene (klaar ingelê)
  • 15 ml mosterdpoeier
  • 750 ml druiweasyn
  • 200 ml sonneblomolie
  • 20 g droë brandrissies, fyngekap
  • 5 ml fyn koljander
  • 5 ml fyn komyn
  • 25 g atjar-masala
  • 15 ml sout
  • 15 ml borrie
  • 200 ml suiker

Metode

  1. Vagaar: Verhit die 100 ml sonneblomolie in ʼn pan en braai die komyn- en mosterdsaadjies liggies tot die mosterdsaadjies ophou spring. Onthou om die pan te bedek, anders spring die mosterdsaadjies uit.
  2. Sny die suurlemoene in die grootte van jou keuse en hou eenkant.
  3. Atjar: Meng die mosterdpoeier met 15 ml asyn en 15 ml olie en hou eenkant.
  4. Verhit 100 ml van die olie in ʼn kastrol en smoor al die droë bestanddele tot aromaties, maar wees versigtig om nie die rissie te brand nie. Voeg die oorblywende asyn en suiker by en verhit tot kookpunt sodat die suiker kan oplos. Verwyder van die hitte en laat die mengsel afkoel.
  5. Voeg die mosterdpoeier-pasta by die res van die sonneblomolie en meng goed sodat dit emulsifiseer. Voeg die rissiemengsel, die mosterd en vagaar by die suurlemoene. Meng goed, skep in gesteriliseerde bottels en verseël. Laat die atjar vir ten minste 2 weke rus voor jy dit gebruik, maar hoe langer dit staan, hoe lekkerder proe dit.

Bron: Koskas kos deur Francois Ferreira

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johan ·

Ek verstaan nie die ingelede suurlemoene nie.
Moet dit reeds ingele word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.