Soorte resepte:

Brandewyn vier 350 allemintige jare

Pieter de Bod, KWV se brandewynmeester wat pas weer trofees vir beste brandewyn in die wêreld vir die 15 jaar, die trofee vir die beste Cognac in die wêreld vir die XO Héritage Cognac en ook die grootste prys as die beste Brandewyn- en Cognac-produseerder in die wêreld gewen het. (Foto verskaf)

Maak jou oë toe en gee jou verbeelding én reuksintuig vrye teuels: dink aan gestoofde vrugte, met ʼn goeie skeut karamel, dalk effe speserye, bietjie hout, ʼn tikkie soet, ʼn bietjie aards en blommerigheid wat jou neus betower. Dis maar enkele van die geure in Suid-Afrikaanse brandewyn, wat vanjaar 350 jaar oud is én as die wêreld se beste gereken word, skryf Maryke Roberts.

Van lobola-geskenk tot boereraat; Suid-Afrikaanse brandewyn is verweef in ons alledaagse lewe en in ons weefsel. Die resep vir sy sukses lê in sy skynbaar eindelose veelsydigheid.

ʼn KWV-brandewynmeester van die Paarl het nie net pas die kristaltrofee vir die wêreld se beste brandewyn in Londen gaan haal nie, maar ook vir die beste konjak. Ja, ʼn Suid-Afrikaner het stof in die oë van die Franse gaan skop – op hul terrein, in hulle Cognac-streek, met hul produk.

Suid-Afrikaanse potketel-brandewyn en ook die nuwe toelaatbare benaming Cape Brandy, word op presies dieselfde manier as konjak gemaak en kan trots staan langs hul Franse eweknieë. In beide gevalle word ongeveer vyf liter basiswyn distilleer in een helder, hoë-proef spiritus, wat in vate verouder word.

Hoewel brandewyn regoor die wêreld gemaak word, word die eeue oue tradisie van brandewynmaak in die Cognac-streek in Frankryk, beskerm deur geografiese wetgewing vir dié spiritus se naam; met die gevolg dat enige uitdaging jeens sy gehalte, voorheen bykans onmoontlik was. Om as ʼn konjak te kwalifiseer moet druiwe verkry word en die produk moet gebottel en verouder word in die Cognac-streek in Frankryk.

’n Nuwe geslag liefhebbers ontdek die wonder van dié unieke Suid-Afrikaanse produk. Of jy dit nou met koeldrank en ys geniet op jou agterstoep, of laataand met vriende aan ’n sopie potketel brandewyn teug terwyl julle sigare rook, dit bly eg Suid-Afrikaans. (Foto verskaf)

Dit was problematies vir ook Suid-Afrikaanse brandewynmakers. Selfs met die hoë produksiestandaarde en eindelose toekennings, het kompetisiereëls brandewynmakers benadeel en die regverdige evaluasie van brandewyne versus konjak verhoed.

Suid-Afrikaners was vasbeslote om hul vaardigheid ten toon te stel en al die vereistes om konjak te maak, na te kom.

Dis hier wat Pieter de Bod, daardie brandewynmeester waarvan ek flussies gepraat het, in die kalklig tree. ʼn Paar jaar gelede sluit KWV ʼn samewerkingsvennootskap met die Franse Huis van Maison Charpentier en ontwikkel die KWV Héritage XO. Pieter het uit 20 van die beste Extra Old Cognacs, uit die Petite Champagne- en Grande Champagne-streke in Frankryk, tussen 12 en 30 jaar oud − wat dit een van die oudste versnitte wêreldwyd beskikbaar maak, sy gesogte Héritage XO-onderskeiding verdien.

Gaan beleef die hele brandewyn-ervaring by KWV se House of Fire in die Paarl en proe na afloop al die wen-brandewyne wat Pieter en sy span maak. Dis die beste brandewyn-“museum” wat jy kan besoek. (Foto verskaf)

Hy het elkeen geproe, die geure onderskei, toe die kosbaarste versnit noukeurig gekies, en dit in Frankryk gaan versny en voorberei vir veroudering. Die KWV Héritage XO konjak is al verskeie male as die wêreld se beste konjak aangewys.

Met ʼn proe van dié konjak in Kaapstad ʼn paar jaar gelede, vertel Pieter ons dat Cognacs uit die gesogte Petit Champagne-omgewing gekenmerk word aan hul elegansie en dat die ambagsmanne by Maison Charpentier, wat in 1895 gestig is, ware meesters van hul kuns is, en hul konjak op die terrein distilleer in klein hoeveelhede, wat dan sorgvuldig gekoester word deur die rypwordingsproses in Franse eikehoutvate.

“Ons is baie trots om die eerste Suid-Afrikaanse maatskappy te wees wat ʼn Suid-Afrikaanse handelsmerk Cognac vervaardig. Dit verteenwoordig wat glo die wêreld se eerste kruis-kontinentale vennootskap is, geïllustreer deur ons handelsmerk-verklaring van Two Continents, Two Keys, One Extraordinary Cognac.”

Op 14 Julie vanjaar skryf Pieter trots op sy Facebookblad uit Londen: “KWV het dit weer gedoen en hierdie keer die Franse gewen ook! Ons wen trofees vir beste brandewyn in die wêreld vir ons 15 jaar, wen die Trofee vir die beste Cognac in die wêreld vir ons XO Héritage Cognac en ook die grootste prys as die beste brandewyn- en Cognac-produseerder in die wêreld.”

Vandag beleef Suid-Afrikaanse brandewyn ʼn bloeiseisoen en heelwat hiervan is te danke aan al die internasionale erkenning.

ʼn Nuwe geslag liefhebbers ontdek die wonder van dié unieke Suid-Afrikaanse produk. Of jy dit nou met koeldrank en ys geniet op jou agterstoep, of laataand met vriende aan ʼn sopie potketel-brandewyn teug terwyl julle sigare rook, dit bly eg Suid-Afrikaans.

Die moderne proelokaal by Oude Molen distilleerdery in Elgin. (Foto verskaf)

Maar voor ek die kar voor die perde inspan, waar het dit alles vir Suid-Afrikaanse brandewyn begin?

Teen die 1600’s het Nederlanders brandewyn op hul skepe begin vervoer, omdat die wyne destyds nie die lang seereise kon hanteer nie. Deur die wyn te distilleer, het dit nie net die raklewe verleng omdat die hoër alkohol ʼn natuurlike preserveermiddel was en oksidasie verhoed het nie, maar hoe langer dit in eikehoutvate gehou is, hoe beter is die kleur en geur.

Niemand stry dat ʼn paar vate brandewyn in 1652 saam met Jan van Riebeeck by Tafelbaai-hawe ingevaar het nie en ook nie dat die naam brandewyn van die Nederlanders kom en letterlik “gebrande wyn” beteken nie. Op daardie stadium praat die Duitsers van “branttwein” omdat die wyn met vuur in iets anders verander word.

Maar kom ons fokus op eie bodem. Letterlik. In 1672 lê die skip, de Pijl, in Tafelbaai geanker en die assistent-kok distilleer 130 liter brandewyn van 1 000 liter Kaapse wyn.

KWV se House of Fire in die Paarl is die ideale plek om oor ’n boepens koperketel te vryf en meer te leer oor ons internasionaal bekroonde brandewyne. (Foto verskaf)

Geskiedenis word gemaak. In die boek, Brandy in South Africa (Buren Publishers, 1973) skryf André P Brink, dat die aantekeninge lui dat die “slegste Kaapse wyn in heerlike brandewyn gestook is”. En voeg dan by: “Ons sal daardie ‘heerlike’ met ʼn knippie sout moet neem, omdat die Kaap vir baie jare berug was vir sy slegte brandewyn. Selfs in 1822 het kolonel Bird aangeteken dat die Kaapse brandewyn selfs nog slegter as sy wyn was.”

Hy skryf ook dat die Kaap later as “Klein Parys” bekend was en dat brandewyn-drink en tabak-rook deel van die daaglikse lewe was, maar die gehalte laat veel te wense oor. In 1826 stel Lord Charles Somerset ʼn kommissie aan om metodes te vind hoe om die wyn en brandewyn te verbeter. Teen 1891 word daar net meer as 6 miljoen liter wyn en 1,4 miljoen gallonne brandewyn aan die Kaap verbruik. Twee jaar later klim dit tot 6,1 miljoen en 1,5 miljoen onderskeidelik.

In 1918 kom die KWV tot stand in ʼn poging om die wynbedryf te reguleer en kwaliteitstandaarde daar te stel. Die Wet op die Beheer van Spiritus van 1924 was die eerste wetgewing om minimum standaarde vir brandewyn in Suid-Afrika daar te stel.

Die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting is in 1984 gestig om die herkoms en integriteit van Suid-Afrikaanse brandewyn te beskerm. Dit verseker dat plaaslike en ingevoerde brandewyne by die gereguleerde produksiestandaarde hou. Vandag spog dié stigting met ʼn hele klomp lede, so wyd as Stellenbosch en die Paarl tot Kakamas en Calitzdorp.

Proe na afloop van jou besoek aan die KWV House of Fire al die wen-brandewyne wat Pieter en sy span maak. (Foto verskaf)

In die boek, Fire Water: South African Brandy deur Wendy Toerien (Quivertree 2008) lees ek van René Santhagens − die man grootliks agter Die Wet op die Beheer van Spiritus van 1924. Santhagens is die stigter van Oude Molen Distilleerdery wat vandag die bekroonde Oude Molen Cape Brandy maak.

Santhagens is deur die goudvelde van die ou Transvaal gelok en het in 1897 aangeland. Dié avonturier, ontdekker en chemiese ingenieur, se skoonpa, Marquis de Pellerin Latouche in Cognac, het sy skoonseun die fynere kuns van distillering in die konjak-styl (twee maal gedistilleer) geleer. Santhagens, met sy koper potketel, bewys gou dat hy brandewyn van baie goeie gehalte kan maak. Hy werk aanvanklik vir Alois Hugo Nellmapius buite Pretoria, maar die Anglo-Boereoorlog bring ʼn einde aan distillering daar en hy trek in 1903 Kaap toe.

Hy koop die plaas Oude Molen in Stellenbosch ses jaar later en omskep die eenvoudige huis in ʼn dubbelverdieping grasdak gewelhuis. In 1910 begin hy in alle erns distilleer.

Sy toewyding tot die konjak-dubbel-distilleer-metode en langer veroudering, besorg hom ʼn nasionale reputasie vir voortreflike brandewyn. Santhagens was deurslaggewend in die opstel van die wetgewing wat in 1924 die Wet op Wyn en Spiritus geword het, wat streng kriteria vir brandewyndistillasie afgekondig het. Toe die wet in werking getree het, was hy die enigste persoon wat ʼn voorraad brandewyn gehad het wat aan al sy kriteria voldoen het.

Kurt Schlecter, eienaar van Cause/Effect Cocktail Kitchen in die Kaapse Waterfront, se groot verskeidenheid innoverende brandewyn mengeldrankies het hom al internasionale aansien besorg. (Foto verskaf)

Hy is in 1937 oorlede, maar dat hy sy merk op die brandewynbedryf gelaat het, is gewis.

Oude Molen het in 2003 na sy perseel in Elgin verskuif en spog met die drie grootste potketels in die land: Big Bertha, Long Tom en Long Cecil. Agter die ketels is store met duisende vate waarin brandewyn vir tot 30 jaar verouder.

Kobus Gelderblom is brandewynmeester daar en word hoog geag in brandewynkringe. Oude Molen is ʼn lid van die Cape Brandy Distillers Guild en gebruik die beskrywing “Cape Brandy” om aan te dui dat sy brandewyne 100% pot-gedistilleer is en in eikehoutvate verouder is. Die Kaapse brandewynbeskrywing word toenemend deur Suid-Afrikaanse distilleerders gebruik as ʼn aanduiding van kwaliteit en herkoms.

Baanbrekers

Johan Venter van Distell en Martin Moore, keldermeester by Durbanville Hills, het 11 jaar gelede oor middagete besluit dié wynkelder kort ’n brandewyn. Die 10 jaar oue Durbanville Hills potketel Merlot brandewyn is onlangs vrygestel. (Foto verskaf)

Die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf het ook verskeie ander baanbrekers gehad. Hieronder is Gary Baumgarten wat vir 15 jaar by KWV gewerk het; oorlede Francis “Duimpie” Bayly, wynlegende wat hom sy hele lewe lank beywer het vir die brandewyn- en wynbedryf en Marlene Bester, brandewynmeester van Van Ryns wat verskeie male as die wêreld se beste brandewyn bekroon is. Van Ryns het pas by die World Brandy Awards 2022 weer weggestap met die titel as die wêreld se beste wyn brandewyn vir hul 20-jaar oue enkel potketel-brandewyn. Verskeie plaaslike brandewyne het daar uitgeblink.

Johan Venter van Distell en Martin Moore, keldermeester by Durbanville Hills, het 11 jaar gelede oor middagete besluit dié wynkelder kort ʼn brandewyn. Die 10 jaar oue Durbanville Hills potketel Merlot-brandewyn is onlangs vrygestel. Dit het vir tien jaar in Franse eikehout verouder en is in Durbanville Hills Merlot-vate afgerond voor dit gebottel is. Dis Suid-Afrika se enigste Merlot-brandewyn.

Watter druiwe is geskik vir brandewyn?

René Santhagens – die man grootliks agter Die Wet op die Beheer van Spiritus van 1924. Santhagens is die stigter van Oude Molen Distilleerdery wat vandag die bekroonde Oude Molen Cape Brandy maak. (Foto verskaf)

Brandewyn moet volgens wet van wyn – en dus druiwe – gemaak word. In Suid-Afrika is chenin blanc en colombar die gunstelinge; in Cognac is dit meestal ugni blanc. Vernuftige Suid-Afrikaanse brandewynmakers het ook al pinotage-, chardonnay- en muscat-druiwe gebruik om unieke, Suid-Afrikaanse potketel-brandewyne te maak.

Suid-Afrikaanse brandewyne moet twee maal in ʼn koper potketel gedistilleer word en koper word gebruik omdat dit ʼn goeie hittegeleier is. Die wetgewing in Frankryk en Suid-Afrika bepaal dat brandewyne in eikehoutvate verouder moet word – in Suid-Afrika is dit drie jaar en twee in Cognac. Suid-Afrikaanse potketel-brandewyn het ʼn minimum alkoholinhoud van 38%, teenoor die 40% van Cognac.

Toekoms wink blink

Om te wys hoe innoverend brandewyn is, is die Suid-Afrikaanse Brandewyn Innovasie Uitdaging gehou. Dis deur die Suid-Afrikaanse Brandewyn Stigting aangebied en het kreatiewe uit-die-vat-denkers genooi om hul sake-idees voor te lê vir die kans om ʼn kontantbedrag en mentorskap om hulle eie handelsmerk bekend te stel, te wen.

Ses beoordelaars het die inskrywings beoordeel. Hul fokus was innovasie en die uitbreiding van markte aan nuwe verbruikers.

Die algehele wenners uit 40 inskrywings, is Tinashe Nyamudoka en Kumusha Brandy (nuwe mark ontwikkeling); Coetzer Hanekom en Die Mas Die Kalahari Fynetjie Rosegold (nuwe karakter) en Michelle Coates vir die Meng-Jou-Eie-Brandewyn knapsak (verbruiker-insigte).

Oude Molen het in 2003 na sy huidige perseel in Elgin verskuif en spog met die drie grootste potketels in die land: Big Bertha, Long Tom en Long Cecil. Agter die ketels is store met duisende vate waarin brandewyn vir tot 30 jaar verouder. (Foto verskaf)

Christelle Reade-Jahn, direkteur van die Suid-Afrikaanse Brandewyn Stigting, vertel: “Die inskrywings was uitstekend, wat bewys dat daar geen tekort is aan passie en talent wat Suid-Afrikaanse brandewyn betref nie.

“Hoewel daar net drie wenners kon wees, het die uitslae beslis bewys dat hierdie waarlik plaaslike- en uitstekende spiritus, ʼn skitterende- en uitstekende toekoms het.”

Sy voeg by: “Sedert sy begindae is brandewyn in ons kultuur saamgedra en verbeter. Evolusie en innovasie was nog altyd deel van sy DNS.”

  • Gaan beleef die hele brandewyn-ervaring by KWV se House of Fire in die Paarl en proe na afloop al die wen-brandewyne wat Pieter en sy span maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Tot my groot vreugde is KWV brandewyn selfs te koop in Katy, Texas!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.