Soorte resepte:

Internasionale sukses wink nou vir Kaapse mengeldrankiemeester

Die Bergvliet-boorling werk tans as kroegman by Fable in Breestraat, Kaapstad. (Foto: Verskaf)

Joshua Hendricks, ʼn 24-jarige Kaapse kroegman, het danksy sy mededingende meng- en skinkvaardighede onlangs vir homself ʼn plek in die eindronde van die Diageo Wêreldklas-kroegmankompetisie verseker.

Diageo produseer onder meer Guinness-bier, Johnny Walker-whisky, Smirnoff-wodka en Captain Morgan-rum en het dié kompetisie in 2009 op die been gebring met die doel om die mengeldrankie-kultuur en die kuns daaragter in die kollig te plaas.

Dié drankvervaardiger het ook in 2021 die Diageo SA The Hand-Up-mentorskaprogram van stapel gestuur waardeur 100 kroegpersoneel vanuit voorheen benadeelde gemeenskappe mentorskap by tien ervare kroegmanne ontvang. Meer as 400 000 kroegpersoneel is al wêreldwyd deur soortgelyke inisiatiewe van dié maatskappy opgelei.

Deelnemers moes ook in ʼn ander uitdaging inspirasie uit hul herkoms put. (Foto: Verskaf)

Hendricks was een van dié 100 protegées wat gekies is om verlede jaar die mentorskapsprogram by te woon. Dié Bergvliet-boorling werk tans as kroegman by Fable in Breestraat, Kaapstad, en is die jongste persoon om dié top-eerbewyse in die plaaslike been van die Diageo Wêreldklas-kroegmankompetisie te ontvang.

Hy sal in September aan die eindronde in Sydney deelneem, waar hy teen 49 van die wêreld se beste kroegmanne sal moet “shake and stir” vir die wenprys.

Hendricks moes beoordelaars soos Johnnie Walker-handelsmerkbeïnvloeder Kay Ngonyama, Pete Goffe–Wood, ʼn MasterChef SA-beoordelaar en Ultimate Braai Master-beoordelaar, Brent Perremore, ʼn driemalige wêreldklas-kampioen en medestigter van Diageo SA The Hand Up Mentorskap-program, Dom de Lorenzo, ʼn Diageo-handelsmerkambassadeur en voormalige wêreldklaskompetisie-naaswenner, en die kroegpersoneel-afrigter Haroon Haffejee beïndruk om ʼn plek in die eindronde te verower.

Hy verduidelik dat die finale plaaslike eindronde – wat in Juniemaand oor ʼn tydperk van drie dae in die Moederstad aangebied is, sy sintuie, vaardighede én kreatiwiteit tot die uiterste beproef het.

“Die eerste dag het afgeskop met ʼn ‘meesters-uitdaging’, waar ons 50 skemerkelkiebestanddele volgens reuk en smaak alleen moes identifiseer. Daarna is klassieke skemerkelkies in proefbuise bedien en ons moes hulle geblinddoek uitken,” vertel Hendricks.

Een van Hendricks se tien oorspronklike skemerkelkies wat hy in minder as agt minute moes optower. (Foto: Verskaf)

In die uitklopuitdaging moes deelnemers 50 verskillende soorte alkohol identifiseer, terwyl hulle in die spoedronde tien oorspronklike skemerkelkies in agt minute moes optower.

Hendricks glo sy beste skepping uit dié tien drankies was ʼn Singleton-heuningsuur met ʼn rooiwyn- en peerreduksie tussen die skuim. “Dit is ʼn New Yorkse-drankie wat nogal gereeld bedien word, maar die manier waarop ek dit gedoen het, was ongelooflik,” sê die kroegkunstenaar.

Deelnemers moes ook in ʼn ander uitdaging inspirasie uit hul herkoms put.

“Ek is bruin man, so ek het ’n rooibos pinotage-tee-mengsel, wat vir my die tannies wat altyd in die kombuis sit en skinder verteenwoordig, saam met ’n vermoet-wyn en kaiings gemeng.”

Dié unieke drankie is in ʼn lasergesnyde houtboks, oftewel ʼn “fancy papsap” soos Hendricks dit noem, bedien.

Met die kosuitdaging het hy ʼn gedekonstrueerde paella en ʼn saffraan-risotto-kroket en garnaal gekies om saam met sy Singleton- en appel-en-vinkelsap-skemerkelkie te kombineer. “Dit het komyngegeurde vermoet en heuningsitrus met steranys gehad – aromaties, vars en skerp sodat die suur deur die vet van die gereg kon sny.”

In die uitklopuitdaging moes deelnemers 50 verskillende soorte alkohol identifiseer. (Foto: Verskaf)

Die oorblywende ses finaliste het daarna 24 uur gehad om hul eie opwikkroeg te ontwerp, met ʼn unieke konsep, tema én vier splinternuwe drankies. Hoewel dit volgens Hendricks die mees uitdagende rondte was, is dit ook die een wat hy die meeste geniet het.

Hy vertel dat hy deur die metamorfose van ʼn skoenlapper geïnspireer is. Sy kroeg het dus ʼn tuinatmosfeer met herfsblare en origami-vlinders gehad en elkeen van sy skemerkelkies het ʼn fase van ʼn skoenlapper se metamorfose verteenwoordig.

Hoewel hy nie in een rondte uitgeblink het nie, het die jong kroegman konsekwent goed gevaar en deurlopend ʼn plek in die topdrie verower. Só het hy eindelik die meeste punte van al die deelnemers gehad.

Die jong mengeldrankiemeester sien uit na die wêreldeindronde van dié kompetisie en is tans hard aan die voorberei. “Ek is reeds besig om te beplan en probeer om my kop reg te kry en net te oefen. Ek dink as ek goed voorberei, kan ek goed vaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Windhond ·

En ek was altyd gewaarsku, – moenie jou drank meng nie!! dink net waar kon ek vandag al uitgestyg het?

Harley Davidson ·

Die Wes Kaap is maar net in alle opsigte beter as die res van Suid-Afrika, wanneer hy afstig met die klem op wanneer gaan dit n eerste wêreld land wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.