Soorte resepte:

Kies die regte koffiemasjien vir jou huis

Die is een van die talle outomatiese koffiemasjiene wat by Heavenly Coffees beskikbaar is.

Die perfekte koppie boeretroos is elke huishouding beskore, mits ʼn koffiemasjien wat die gesin se leefstyl, smaak én beursie pas, aangeskaf word.

Daar is drie verskillende soorte masjiene wat gewild is in Suid-Afrika: die outomatiese masjien, een wat met die hand hanteer word en die een wat met kapsules werk.

By Heavenly Coffees in Centurion kan jy nie net heerlike koffie koop nie, maar is daar ook ʼn verskeidenheid van koffiemasjiene – van groot tot klein – beskikbaar.

Dié koffie-foendi’s verduidelik kortliks die voor- en nadele van elke masjien.

Outomatiese masjiene is ʼn als-in-een-toestel wat varsgemaalde koffie saam met ʼn melkskuimer in ʼn enkele eenheid saamvoeg. Dit beteken die brouproses word as ʼn geheel deur een masjien hanteer.

Gerieflikheid, konsekwentheid en gehalte is die hoofredes om in ʼn outomatiese masjien te belê, aangesien dit altyd die beste, varsste koffie van varsgemaalde bone lewer.

Outomatiese masjiene beskik ook oor ʼn vloeikristalskerm (LCD) met kleur, wat met die aanraking van ʼn knoppie al die werk vir jou doen. Hoewel dié masjiene duurder as ʼn kapsulemasjien is, is ʼn outomatiese masjien meer ekonomies op die lange duur.

Dié masjiene skakel ook die gebruik van filterpapier, plastiekkoppies en kapsules uit, wat dit meer omgewingsvriendelik maak.

Heavenly Coffees het ‘n groot verskeidenheid van koffiemasjiene beskikbaar.

Heavenly Coffees beveel aan dat heel bone vir dié masjiene gebruik word en sê ook dat dié masjiene die heerlikste espresso kan voorberei.

Tradisionele koffiemakers hou egter daarvan om ʼn masjien te gebruik wat met die hand hanteer word om espresso te brou. Dié masjiene vereis ʼn aparte maler om die koffie in ʼn portafilter (koffiehouer) te maal. Die koffie word dan per hand saamgepers voordat dit in die masjien geplaas word. Die masjien beskik oor ʼn knoppie wat die brouproses begin en stopsit.

Melk kan geskuim word in ʼn vlekvryestaalbeker deur ʼn stoomstaaf te gebruik wat aan die masjien gekoppel word, maar dié proses verg oefening.

Sodra jy jou masjien ken en die koffiemaakproses vervolmaak het, kan die masjien jou die beste espresso-smaak bied. Dit is omdat jy self elke deel van die brouproses beheer, aangesien jy self die bone maal, die koffie saampers, die proses aan- en afskakel en die melk stoom. Dit is ʼn ware barista se droom.

Koffiemasjiene vir elke huishouding is by Heavenly Coffees beskikbaar.

Kapsulemasjiene is vir koffieliefhebbers wat hou van spoed en gerief. Jy kan steeds ʼn goeie koppie koffie drink, boonop met min moeite.

Al wat jy hoef te doen is om ʼn koffiekapsule in die masjien te plaas en ʼn knoppie te druk. Dit is doeltreffend, gerieflik en tydbesparend.

Elke kapsule bevat ʼn unieke geur en dit beteken dat jy ʼn koppie koffie kan maak wat presies by jou smaak sal pas. Kapsulemasjiene is goedkoper as die meeste ander koffiemasjiene, maar kan op lange duur die sak ruk wanneer jy die kapsules moet aankoop.

Elke koffiemasjien dien ʼn verskillende doel. ʼn Outomatiese masjien word aanbeveel vir heerlike koffie wat geen moeite of vaardighede vereis nie. Masjiene wat met die hand hanteer word, word aanbeveel vir koffie-entoesiaste wat nie omgee om moeite te doen nie.

Om ʼn koffiemasjien aan te koop is ʼn groot besluit en belegging en daarom is dit belangrik om noukeurig navorsing te doen.

Besoek Heavenly Coffees se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.