Soorte resepte:

Luister: Bartho Eksteen daag wyngrense uit

Die bekroonde wynmaker Bartho Eksteen het by Maroela Media gekuier. (Foto: Maroela Media)

Keurige Afrikaanse wynname en toekennings span dalk die kroon op Bartho Eksteen se loopbaan as wynmaker, maar wanneer jy hom oor sukses en motivering vra, dan praat hy oor spanwerk saam met sy familie, en veral sy vrou, Suné.

Die Eksteens se hegte familieverbintenis word saamgevat op die etikette van Bartho se wynbottels:

Twee vasberade seuns, die wonderlikste dogters onder die son, ʼn grasieuse en wyse vrou, asook ʼn gegronde geloof in ons Skepper. Só word die sterkste hoeksteen vir enige wynmaker gevorm om sy drome op uit te messel.

As kind het Bartho nie daarvan gedroom om ʼn bekroonde wynmaker te word nie, trouens, hy het eers veel later besef dat daar vir hom ʼn toekoms in die wynbedryf kan wees.

Oor die jare het Bartho die kuns van wynmaak met die allergrootste toewyding bemeester, grense getoets en talle wyntoekennings verower. Vroeër vanjaar het ʼn groot pluimpie hom en sy vrou te beurt geval toe hulle met ʼn ere-Tinteltong bekroon is. Maroela Media het berig dat dié prys aan hulle oorhandig is vir die kreatiewe wyse waarop Afrikaans in hul onderneming vervleg word.

Vanaf 2015 bou Bartho verder aan sy drome op ʼn wynlandgoed in die skilderagtige Hemel-en-Aarde-vallei in die Overbergdistrik. Voor dit was hy een van die stigterslede van Hermanuspietersfontein waar hy ook die inspirasie agter Afrikaanse wynname soos Swartskaap (cabernet franc) en Bloos (rosé) was.

“As dit nie vir my vrou was nie, het ek nie in 2014 toe ek by Hermanuspietersfontein weg is, die wynlandgoed in Hemel-en-Aarde-vallei gekoop nie,” verklap Bartho, en hy voeg by: “Suné kry eintlik heeltemal te min van die krediet wat haar toekom.”

Een van Suné se gawes is om kos te maak, vertel Bartho ingenome. Hy het al baie by haar geleer en saam met haar gekook. Toe hy haar onlangs daarop wys dat sy nog nie saam met hom wyn gemaak het nie, het dinge ʼn interessante wending geneem.

“Toe ek dit vir haar sê, het sy so ewe geantwoord: ‘Maar jy het my nog nooit genooi nie.’ Nou ja, daar het die proses vir haar begin om haar eerste wyn te maak. Ons het weggespring en ek moes vinnig ʼn plan beraam om druiwe in die hande te kry, omdat dit kort voor oestyd was.”

Op die vraag oor watter wyn sy wou maak, het Suné vir Bartho gesê ʼn cabernet franc. Dit is geïnspireer deur haar gunstelingwyn – Hermanuspietersfontein se Swartskaap Cabernet Franc – wat Bartho gemaak het.

Mamma Cabernet Franc 2022 van Bartho Eksteen-wynlandgoed. (Foto: Maroela Media)

Vandag kan Suné met trots sê dat sy een vaatjie (ongeveer 300 bottels) cabernet franc gemaak het. Dié wyn staan as Mamma bekend en op die etiket pronk ʼn lynskets van Suné.

“My noemnaam vir Suné is Mamma. Omdat dit haar wyn is, het ons gedink dit is gepas om die wyn na haar te vernoem. Sy het ook besluit om dit nie te verkoop nie en eerder as geskenke vir familie en vriende te gee.”

Wie die trotsste oor Suné se wyn is, kan ʼn mens nie peil nie. Maar hul liefde en bewondering vir mekaar blyk duidelik wanneer Bartho vertel hoe hy en Suné mekaar se passie deel en dit saam vier.

“My kos en haar wyn is omtrent dieselfde. As ek kos maak, doen ek presies wat Suné sê. Maar wanneer die kos voorgesit word, vat ek al die komplimente. Dieselfde geld wanneer sy wyn maak,” knipoog Bartho.

Skryf so in

Een Maroela Media-leser staan die kans om ʼn getekende bottel Mamma 2022 van Bartho Eksteen-wynlandgoed te wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul en die eenvoudige vraag te beantwoord.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 30 Augustus om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 30 Augustus om 23:45.
  • Die wenner sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys kan nie vir kontant geruil word nie.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

16 Desember 2022 is n Geloftedagviering op Bartho se plaas gehou.Dit was n onvergeetlike ervaring en ek hoop dit gebeur vanjaar weer .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.