Soorte resepte:

SA wynmaker wys haar staal met wenner rosé

Maryke-Eikendal

Eikendal, die bekroonde Stellenbosch-wynkelder, lui ’n nuwe era in met die amptelike aanstelling van Maryke Botha as wynmaker. Sy was tot onlangs Nico Grobler, die keldermeester, se assistent. Nico vertrek ná 11 jaar om sy eie wynprojek te ontwikkel.

Botha het haar bevordering ingelui met ’n goue medalje vir die Eikendal Rosé 2020 – die eerste wyn wat sy as solowynmaker vrystel. Die toekenning is by die onlangse Gilbert & Gaillard Internasionale Uitdaging aangekondig.

Chris Saager, wie se Switserse familie Eikendal sedert 1981 besit, sê dat die span opgewonde is om Maryke in haar nuwe rol te sien.

“Ons is beïndruk deur haar persoonlikheid en vaardighede in die wingerde en kelder; dit is ’n ware getuigskrif vir Nico se uitstekende mentorskap.”

Maryke het haar loopbaan in 2016 as wynmaak-intern by Eikendal begin. Sy het aan die Oos-Rand van Gauteng grootgeword en aanvanklik gekwalifiseer as oogkundige wat in sportvisie spesialiseer het. Haar skuif Wes-Kaap toe het haar fassinering met wyn vlerke gegee en sy het ’n graad in wynmaak by Universiteit Stellenbosch behaal.

Vanjaar se oes was die eerste wat sy as Eikendal se wynmaker afgehandel het. Al 2020 se witwyne is onder haar leierskap gemaak. Sy het ook die verantwoordelikhede vir Eikendal se 2019-rooiwyne en die vorige jaar se Eikendal Classique Bordeaux-versnit gedeel.

Eikendal Rosé

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die wyn,” sê sy oor die Eikendal Rosé 2020. “Dit het die mooiste sweempie kleur, met ’n besonderse geurprofiel – ’n kombinasie van rooibessies, spookasem en rooswater, met ’n sagte, lewendige, vars en verfrissende suur.”

Die grootste gedeelte van die versnit bestaan uit merlot, wat van die hoogste wingerd op die landgoed kom. Sy voortreflike karakter word verder geslyp met skeutjies grenache, cinsault en mourvèdre.

“Eikendal se aanslag is sinoniem met Switserse kwaliteit en berus op aandag aan kleiner besonderhede,” sê Maryke.

“Die fokus begin in die wingerde en word deur noukeurige wingerdbou toegepas. Elke wingerdblok word op sy eie unieke manier versorg om druiwe van die hoogste gehalte te verseker. Verskillende traliewerk- en opleidingstelsels word soms op ’n enkel-variëteit toegepas om te verseker dat die verlangde wynstyl met die minimum inmenging in die kelder verkry kan word.

Eikendal (Foto: Verskaf)

“Ons wil graag die wyn in die druiwetrosse proe en dit deurdra, sodat die terroir in die glas skitter.”

Maryke is gelukkig met vanjaar se oes en sê die gehalte is uitstekend. Gematigde temperature aan die begin van die somer het ideale stadige en eweredige rypwording tot gevolg gehad. Chardonnay-opbrengste is hoër as die vorige jaar en die gehalte is uitmuntend, terwyl ’n later temperatuurstyging die laaste rooi variëteite se rypwording aangehelp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.