Soorte resepte:

Duisende liter sop vir liefdadigheid gekook

(Foto: verskaf)

Honderde sjefs en kokke landwyd het vroeër vandeesweek meer as 100 000 liter sop voorberei om 400 000 honger mae te vul.

Dié reuseprojek is deur die nie-winsgerigte organisasie, Chefs with Compassion, aangepak en vorm deel van ʼn jaarlikse poging om ten minste 67 000 liter sop vir Mandela-dag te maak. Presies 114 sjefs van reg oor die land het Dinsdag hul kookpotte nadergehark om deel van dié doel te wees.

“Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ons vir die honderde sjefs is wat hul tyd en vaardighede aan hierdie projek gewy het nie,” het sjef Coo Pillay, direkteur van Chefs with Compassion, oor die suksesvolle voltooiing van die projek gesê.

(Foto: verskaf)

Bydrae tot die sopprojek het vanuit alle oorde gekom, met mense wat nie net hul tyd gegee het nie, maar ook bestanddele en toerusting.

Die Infinity-fonds het 10 500 liter sop gemaak, terwyl die Thembi T-fonds 6 700 liter en die Carol Madumo-projek 5 400 liter kon voorberei. Daar het ook verskeie organisasies in die gasvryheidsbedryf, insluitend die Marriot Internasionale Groep, Southern Sun en City Lodge, die projek ondersteun.

‘n Student wat besig is om ‘n pot sop te kook. (Foto: verskaf)

Talle studente en dosente by sjefskole het ook hul tyd en vaardighede aan die projek gewy.

Poultry Bulletin, Quantum Foods (Nulaid), Astral, Rainbow, Country Bird Holdings en die Johannesburgse varsproduktemark het onder meer vleis, eiers en groente geskenk.

“Die sukses van hierdie jaar se #67 000litres-uitdaging is ʼn getuienis van die toewyding en omgee van die Suid-Afrikaanse gasvryheidsbedryf.”

“Saam het ons ʼn reuse-impak gemaak. Ons kon diegene voed wat dit nodig gehad het en terselfdertyd bewustheid oor kos mors en honger skep.”

Hoewel die projek jaarliks onder die vaandel van Mandela-dag val, is dit beslis nie die enigste dag waarop Chefs with Compassion werk om honger mae te vul en bewustheid oor kos en die gebruik daarvan te skep nie.

Sedert die organisasie in Mei 2020 tot stand gekom het, is daar al sowat 1,5 miljoen kilogram kos wat weggegooi sou word, gered en gebruik. Dit het vir sowat 5,25 miljoen etes gesorg.

  • Vir meer inligting oor Chefs with Compassion, besoek hierdie webwerf.
  • Indien jy ʼn besigheid besit en by Chefs with Compassion betrokke wil raak, stuur ʼn e-pos na [email protected] om meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.