Soorte resepte:

Resep: Klassieke croissants

Croissant (Foto: Kaley Dykstra/Unsplash)

Croissants is ʼn heerlike, goudbruin en skilferige lekkerny wat enige tyd van die dag geniet kan word – net so of met pikante vulsels.

Die Suid-Afrikaanse radio-aanbieder en televisiepersoonlikheid Kriya Gangiah, deel hierdie resep wat sy beloof keer op keer werk vir ʼn vars, skilferige croissant in die gemak van jou eie huis.

Bestanddele

  • 4 k koekmeel
  • ⅓ k suiker
  • 4 t droë gis
  • 1¼ t sout
  • 1¼ k ongesoute botter, koud
  • 1 k melk
  • 1 groot eier, geklits
  • 1 t water

Metode

  1. Meng die meel, suiker, gis en sout saam.
  2. Sny die botter in ½ cm-grootte blokkies en gooi in die meelmengsel om dit te bedek.
  3. Voeg die melk by en meng tot ʼn stywe deeg vorm.
  4. Bedek die deeg met kleefplastiek en verkoel vir 1 uur.
  5. Rol die deeg uit op ʼn meelbestrooide oppervlak in ʼn lang reghoekige vorm.
  6. Vou dit in derdes, draai dit 90 grade en herhaal 4-6 keer, tot die deeg groot stroke botter in het, maar tog plat en glad is. (As die botter op enige stadium begin smelt, verkoel dit effens in die yskas of vrieskas tot dit weer styf is.)
  7. Vou toe met kleefplastiek en verkoel vir 1 uur.
  8. Deel die deeg in die helfte en rol elke porsie uit in ʼn dikte van sowat 0,3 cm, in lang reghoekige vorms (sowat 25 cm breed en 55 cm lank).
  9. Sny die deeg in lang, maer driehoeke (sowat 12 cm breed aan die einde).
  10. Vou ʼn 1 cm-stuk deeg aan die breë kante van die deeg om en begin dit rol van die breë kant tot die dun kant. Druk die laaste punt onder die croissant in.
  11. Plaas op ʼn bakplaat met bakpapier op, bedek losweg met kleefplastiek en laat rus tot dit in grootte verdubbel het (sowat 1 tot 2 ure).
  12. Meng die eier en water. Voorverhit die oond tot 190 °C en verf liggies met eiermengsel oor elke croissant.
  13. Bak vir 15-20 minute of tot dit goudbruin is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.