Soorte resepte:

Walkersons se tee en skons het nou ’n somer-kinkel

Walkersons Hotel & Spa is bekend vir sy skons. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Wanneer dit kom by Engelse kulinêre tradisies staan die bekoorlike middagtee en skons uit as ʼn pure genot. Veral as dit boonop bedien word met tuisgemaakte suurlemoensmeer en vars bloubessiestroop.

Hierdie tradisie het glo in die 19de eeu in Engeland ontstaan nadat die hertogin van Bedford haar liefde vir ʼn koppie tee en ligte versnaperinge ʼn paar uur voor aandete verklap het. Dit het ʼn gier geword, wat vandag nog ʼn nasionale tradisie is, kompleet met sy eie stel etiket. Vandag word middagtee nie net in Londen geniet nie, maar regoor die wêreld.

Walkersons Hotel & Spa, ’n landelike hotel in die heuwels van die Mpumalanga-hooglande net anderkant die skilderagtige dorpie Dullstroom, is ʼn plek wat kalmte vir liggaam en siel bied. Boonop kan jy binne 2½ uur per motor ontsnap van Johannesburg en Pretoria se gejaag en voel of jy jouself in ʼn ander land bevind.

Hierdie plattelandse hotel verskaf die perfekte mengsel van elegansie en sjarme met ʼn lushof tuine, asemrowende uitsigte, kos om aan te smul en sy eie middagtee-ervaring, bedien op The Terrace – ʼn gewilde Dullstroom-tradisie wat al die bekorings van dié toeristedorp byeenbring.

Die hotel vier nou sy 30ste bestaansjaar en is tans onder die bestuur van nuwe eienaars. Dit het ʼn transformasie ondergaan, wat nie net ʼn nuwe baadjie aan dié juweel van die Hoëveld bied nie, maar ook ʼn volhoubare geur aan die alles by die hotel gee – en dit sluit die hotel se skons in.

“Walkersons Hotel & Spa is lank reeds bekend vir sy skons. Hierdie heerlike lekkerny word vars gebak, elke dag, en is watertand lig en donsig met ʼn delikate bros rand. Die skons word tradisioneel bedien met aarbeikonfyt en vars geklopte room, maar ons skons spog nou ook met ʼn tuisgemaakte Walkersons-aanslag,”” sê Guy Nahman, die uitvoerende sjef.

“As deel van ons lente/somer-spyskaart bedien ons skons met tuisgemaakte suurlemoensmeer (lemon curd) en bloubessiekonfyt.

“Dit is deel van Walkersons se plaas-tot-vurk-filosofie om waar moontlike soveel van ons plaaslike boere se produkte uit ons omgewing te gebruik. Ons kry ons vrylopende hoenders se eiers van die Red Wing-plase, ons nuwe bloubessiekonfyt word gemaak met bloubessies wat die Palmietfontein-plase aan ons verskaf. Hierdie bessies is tot barstens toe gevul met geur. Die suurlemoensmeer is van Walkersons se eie suurlemoenbome gemaak.

Probeer die resep en maak jou eie Walkersons-skons met suurlemoensmeer en bloubessiekonfyt tuis:

Walkers se beroemde skons

Maak jou eie Walkersons-skons met bloubessiekonfyt en suurlemoensmeer om tuis te geniet. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Genoeg vir 18 tot 20 skons

Bestanddele

  • 1 kg bruismeel
  • 1 k (250 ml) wit suiker
  • 1 k (250 ml) tuisgemaakte Griekse jogurt
  • 30 ml vars melk
  • 4 organiese proteïenryke eiers
  • 2 t vanieljegeursel of 1 teelepel vanielje-ekstrak
  • 250 g suiwer botter – kamertemperatuur

Metode

  • Meng botter, suiker, eiers, vanielje saam.
  • Voeg die Griekse jogurt geleidelik by.
  • Indien die jogurt reeds bygevoeg is en die beslag te dik is, kan jy die vars melk bietjie vir bietjie ook byvoeg tot dit egalig is.
  • Voeg die bruismeel by en meng die deeg met die hand – moenie die deeg oorwerk nie.
  • Druk die deeg plat, sowat 2,5 cm dik en sny in sirkels of vierkante.
  • Bak in ʼn voorverhitte oond van 170 °C tot goudbruin.

Walkersons se bloubessiekonfyt

Bestanddele

  • 4 k vars bloubessies
  • 1 k wit suiker
  • 1 e vars suurlemoensap

Metode

Meng die bloubessies, suiker, suurlemoensap en kaneel in ʼn kastrol. Kook, terwyl jy vir sowat 30 minute aanhoudend roer oor medium hitte totdat mengsel verdik.

Walkersons se suurlemoensmeer

Bestanddele

  • 3 eiers
  • 2 eiergele
  • ½ k strooisuiker
  • ½ k suurlemoensap, vars uitgedruk
  • 2 e suurlemoenskil, fyn gerasper
  • ½ k botter

Metode

  • Klits al die bestanddele, behalwe die skil, oor pruttende water in ʼn dubbelkoker tot dik.
  • Dreineer en voeg die skil by.
  • Bêre in ʼn gesteriliseerde fles.

“Ons doel in hierdie herdenkingsjaar is om voort te gaan om onvergeetlike Walkersons-ervarings aan ons gaste te bied. Ons middagtee-ervaring is een wat jy nie wil mis nie,” sê Alex Band, die nuwe eienaar en algemene bestuurder van Walkersons.

  • Om meer uit te vind oor middagtee by Walkersons of om verblyf by hierdie luukse Dullstroom-hotel te bespreek, besoek gerus Walkersons.co.za of volg Walkersons Hotel & Spa op Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.