Soorte resepte:

Hoe om jou eie suurdeeg te maak

Tuisgemaakte suurdeeg word dikwels van die een na die volgende geslag aangegee. Baie bakkers het tuisgemaakte suurdeeg van ander dele van die wêreld gekry en bak jare lank al daarmee. Jy kan ook jou eie suurdeegplantjie tuis kweek!

Babette Kourelos, ‘n broodbakker van Babette’s Bread in Johannesburg het ʼn suurdeegplantjie by haar leermeester in Vermont in die VSA gekry, wat sy Maggie gedoop het, wat al sowat sewe jaar oud is.

Babette gee hier ʼn dag-tot-dag uiteensetting om jou eie suurdeeg te maak:

Dag 1

  • Meng 100 g steengemaalde meel met 100 g water en 1 t heuning (opsioneel).
  • Giet die mengsel in ʼn glasfles en maak ligweg toe met ʼn deksel of vadoek.
  • Hou eenkant in ʼn warm plek vir 24 uur.

‘n Suurdeegplantjie (Foto: Verskaf)

Dag 2

  • Ondersoek jou suurdeegplantjie. Is daar enige borrels? Het dit uitgesit?
  • Indien ja, voer jou suurdeeg met nog 100 g water en 100 g meel.
  • Indien nee, hou dit weer in ʼn warm plek vir 24 uur.

Dag 3

  • Ondersoek weer jou suurdeegplantjie. Is daar enige borrels? Het dit uitgesit of gerys?
  • As jy gister jou plantjie gevoer het, gooi die helfte van die plantjie weg en voer dit weer met 100 g water en 100 g meel.
  • As jy nie gister jou plantjie kon voer nie, voer dit vandag met 100 g water en 100 g meel.

Dag 4

  • Ondersoek jou suurdeeg. Het dit gerys en is daar borrels? Is daar ʼn lagie vloeistof bo-op?
  • Gooi die helfte van die plantjie weg en voer met 100 g meel en 100 g water. Jy kan dit wat jy weggooi in pannekoek of tuisgemaakte pasta gebruik.
  • Indien daar ʼn lagie vloeistof op jou plantjie was, beteken dit dat meer gereelde voeding nodig is. Probeer om die suurdeegplantjie elke 12 uur te voer.

‘n Suurdeegplantjie (Foto: Verskaf)

Dag 5

  • Ondersoek jou plantjie. Is daar enige borrels? Het dit gerys? Is daar vloeistof op die oppervlak?
  • Indien daar baie borrels is, maar geen vloeistof nie, gooi die helfte van die plantjie weg en voer met 100 g meel en 100 g water.
  • As daar ʼn lagie vloeistof op is, beteken dit meer gereelde voeding is nodig. Probeer om die plantjie elke 12 uur te voer.

Dag 6

  • Ondersoek jou plantjie. Is daar enige borrels? Het dit gerys? Is daar ʼn laag vloeistof bo-op? Hoe ruik dit? Soet, vrugtig, soos asyn of alkohol?
  • Indien daar baie borrels is, maar geen vloeistof nie, gooi die helfte van die plantjie weg en voer met 100 g meel en 100 g water.
  • As daar ʼn lagie vloeistof op is, beteken dit meer gereelde voeding is nodig. Probeer om die plantjie elke 12 uur te voer. Baie aktiewe en honger plantjies mag drie voedings per dag benodig.

Suurdeeg moet op water kan dryf voor dit gereed is om gebruik te word (Foto: Verskaf)

Dag 7

  • Ondersoek jou plantjie. Het dit in grootte verdubbel? Hoe lank het dit gevat voordat dit in grootte verdubbel het? Vier uur? Agt uur?
  • Indien jou plantjie in die laaste 4 tot 8 uur na sy laaste voeding verdubbel het, is dit tyd vir ʼn dryftoets.
  • Om die dryftoets te doen moet jy ʼn teelepel van jou plantjie in ʼn glas water plaas. Moet dit nie daarin gooi nie, maar plaas dat eerder versigtig op die oppervlakte van die water. As dit dryf, is dit ʼn goeie teken dat dit gebruik kan word.

Gedehidreerde suurdeeg (Foto: Verskaf)

Suurdeegplantjie-wenke:

  • Wanneer jy ʼn aktiewe plantjie het wat kan dryf en wat jy goed kan beheer, kan jy dit in die yskas hou en een maal per week voer. Dit benodig wel ten minste twee voedings voordat jy daarmee kan bak.
  • As jy gereeld bak, kan die plantjie op die kombuistoonbank bly, maar jy moet dit een maal elke dag voed.

As jy vir ʼn tydjie weggaan, kan jy jou plantjie vries of dehidreer en wegpak om te hou vir latere gebruik.

Vir meer inligting, besoek Babette’s Bread se webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Nee wat, klink na teveel werk vir my, ek kan nie eers plastiekplante aan die lewe hou nie, wat nog te sê 1 wat elke dag gevoer moet word.
Daar is ‘n rede hoekom kitsgis uitgevind is.

vetpret ·

Ek wil net graag die resep vir brood kry wat jy met die plantjie bak. Hoeveel van die plantjie word op sê n kg meel gebruik? Dit help nie die plantjie se resep is oral beskikbaar nie, maar niemand versuidelik hoe en hoeveel gebruik moet word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.