Soorte resepte:

Kook in kwarantyn: SA’ners in China vertel

Le Roux en Suané dra deesdae maskers oral waar hulle gaan (Foto: Verskaf)

ʼn Jonggetroude paartjie van Suid-Afrika skryf oor die struweling wat mense buite China nie in die nuus sien nie: kosvoorraad. Die koronavirus het gesorg dat amper al die supermarkte toegemaak het, mense word aangemoedig om in hul huise te bly en van wegneem-etes is daar geen sprake nie.

Le Roux en Suané Baard (24) kom oorspronklik van en George woon tans in Langfang, sowat 60 km buite Beijing. In hul tweeslaapkamerwoonstel tower hulle die lekkerste etes op met minimale hulpbronne. Lees hier oor hulle ervaring:

 

Tien maande gelede het ons as jong verloofde paartjie die onbekende gewaag en China toe gekom om vir ons ’n beter toekoms te bou. Ons planne het so mooi gelyk in ons koppe – ons gaan die wêreld sien en ʼn bietjie geld spaar.

Le Roux en Suané Baard op hul troudag (Foto: Verskaf)

Min wetende dat ons pas na ons troue in die middel van ’n wêreldskrisis sou eindig.

Juis op een van ons reise moes ons in ons spore stop en die storie deurdink. Op ons tweede dag van vakansie by die Harbin Ice Festival maak alles om ons hul deure toe: Kleinhandelaars, restaurante, winkelsentrums en selfs al die toeriste-attraksies wat jaarliks net op sekere datums floreer.

Wat gebeur nou vorentoe? ’n Vraag met die antwoord: “Knip jou vakansie kort, dra ’n masker, bly so veel moontlik binne, was jou hande gereeld en vermy mense”.

Om as pasgetroude paartjie vir ʼn bietjie langer as ’n maand in ’n klein woonstelletjie vasgevang te wees, is ideaal, maar te veel van ’n goeie ding is nie altyd gesond nie en dit het ons vinnig besef!

Ons het mekaar so ʼn bietjie verkeerd begin opgevryf per geleentheid, maar ook mekaar leer ken op ’n vlak wat min pasgetroude paartjies mee kan kompeteer. Ons moes vinnig iets kry wat ons albei interesseer en wat ons geniet.

Le Roux en Suané in China (Foto: Versakf)

ʼn Paar biere, ʼn paar glase wyn en ’n handjievol absurde idees later het “Kook in kwarantyn” oor ons pad geval. Le Roux was nog altyd lief vir kosmaak, en hy is goed daarmee. Suané aan die ander kant is lief daarvoor en kom ons sê maar net sy probeer altyd haar beste.

Suané se werk in die kombuis is om die idee te kry van wat om te maak, gewoonlik ’n Pinterest‑ of Facebook‑prentjie, en dan moet Le Roux die resep aanpas volgens watter tipe bestanddele op die gegewe dag vir hulle beskikbaar is.

Ons beskryf Langfang op die oomblik as ’n spookdorp, al die winkels, restaurante en besighede is toe, selfs taxi’s ry nie meer nie. Daar is slegs een supermark in elke gebied oop waar ʼn mens die nodige kos en kruideniersware kan koop.

Ons probeer om so min as moontlik die huis te verlaat, maar as ons moet, is daar vir ons gesê om maskers te dra. By die supermark wag almal in rye om in te gaan, jou koors word gemeet, jou hande word gespuit met sanitêre middels en jy moet inteken met jou kontakbesonderhede (sodat hulle weet wie om te kontak as iemand wat die winkel daardie dag besoek het dalk siek is) voor jy kan ingaan.

Die personeel het almal sulke “reënjassies”, maskers, handskoene en iets soortgelyk aan swembrille aan om hulle teen die virus te beskerm.

Met al die snaakse produkte en die taalgrens is inkopies op ’n gewone dag uitdagend, maar met al die bykomende faktore en die Sjinese mense wat sélf ook versigtig beweeg, is dit behoorlik chaos en vat dit ’n hele tydjie om te kry wat jy soek.

Ons is baie bevoorreg in Langfang om so naby aan die hoofstad te bly wat kosskaarste en vars produkte betref. As jy na ander dorpe ver van die hoofstad kyk, is hulle baie meer geïsoleerd en afgesny van besoekers en produsente. Ons het vriende wat baie slegter daaraan toe is as ons.

Le Roux en Suané dra deesdae maskers oral waar hulle gaan (Foto: Verskaf)

Elke oggend word ʼn sekere hoeveelheid vars produkte uitgepak vir die dag, as jy te laat kom mag jy dalk nie kry waarvoor jy gesoek het nie, maar dan werk jy daar om. Die proses om kos te kry laat ʼn mens besef hoe ernstig hierdie situasie buite ons woonstel regtig is.

Sommige dae geniet ons dit om te ontspan by die huis en ander dae voel dit of ons vasgevang is met geen plan, taak of dryfveer vir die dag nie. In sulke tye mis ons vriende en familie, en om Suid-Afrikaanse kos op daardie oomblikke te maak het tot nou toe nog baie goed gewerk vir trooskos soos ’n mens dit sal noem.

Soms probeer ons iets nuut en ander kere probeer ons familieresepte – maar op ons eie manier. Met al die tyd op ons hande het ons die resepte vasgevang in ’n Kook in Kwarantyn-webtuiste. Die webtuiste groei daagliks en daar is alles van maklike disse vir pasgetroudes tot snaakse bestanddele in tradisionele resepte weens ons omstandighede.

Met wat voel soos ’n apocalypse en koue winterweer in ons midde het ons ’n maklike sopresep gebruik om genoeg kos te maak en te vries vir ’n hele paar maaltye. Met slegs ʼn paar bestanddele het ons ook ʼn koppiekoek gemaak wat binne vyf minute ons soettand bevredig.

Maar die wenner van almal is ons bobotie. Probeer dit gerus, julle sal nie spyt wees nie!

Bobotie met Sjinese kinkel (Foto: Verskaf)

Bobotie met Chinese kinkel

Bestanddele

  • 1 sny wit brood (vervang met hawermout)
  • 375 ml melk
  • 25 ml olie
  • 10 ml botter
  • 2 uie, gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 25 ml kerriepoeier (of vervang met Chinese kerrieblokkies)
  • 10 ml sout
  • 25 ml blatjang (of vervang met aarbeikonfyt)
  • 15 ml appelkooskonfyt
  • 15 ml Worcestershire-sous (of vervang met sojasous)
  • 5 ml borrie
  • 25 ml bruin asyn (vervang met wit Japannese soesji-asyn)
  • 1 kg biefmaalvleis
  • 3 eiers

Bobotie met Sjinese kinkel (Foto: Verskaf)

Metode

  1. Voorverhit die oond teen 180 ˚C.
  2. Week die brood/hawermout in 75ml melk.
  3. Verhit olie en botter in ’n groot pan en braai uie en knoffel tot uie sag is.
  4. Voeg kerriepoeier/kerrieblokkie, sout, blatjang/aarbeikonfyt, konfyt, Worcestershire-sous/sojasous, borrie en asyn by en meng goed.
  5. Druk brood/hawermout in melk pap, voeg die mengsel saam met die maalvleis in die pan.
  6. Braai oor lae hitte totdat die maalvleis nie meer pienk is nie. Verwyder die mengsel van die hitte en gooi een geklitste eier by, roer goed.
  7. Plaas die maalvleismengsel in ’n oondbak.
  8. Klits die oorblywende eiers, melk en borrie in ’n bak en gooi versigtig oor die maalvleis in die oondbak.
  9. Bak vir 60 minute teen 180 ˚C en bedien met rys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.