Soorte resepte:

Laat jou kos só langer vars bly

(Foto: Maroela Media)

Miljoene rande se voedselprodukte beland jaarliks op die ashoop, aangesien mense wêreldwyd nie weet hoe om hulle kos behoorlik te stoor sodat dit vars kan bly totdat dit verbruik word nie.

Die gemiddelde huishouding in die Verenigde Koninkryk (VK) gooi jaarliks kos ter waarde van byna £800 (sowat R19 000) in die asblik. Dit is kos van sowat R1 600 per maand wat vermors word.

Moneyboat.co.uk het ʼn paar wenke saamgestel om jou weeklikse kruideniersware se rakleeftyd langer te laat hou.

  • Voeg sout by melk sodra dit oopgemaak is. Afhangende van die tipe melk wat jy gebruik, kan dit van vier tot tien dae in die yskas vars bly. Jy kan egter die leeftyd van die melk verleng deur ʼn knippie sout daarby te voeg, aangesien sout ʼn preserveermiddel is en bakteriële groei stuit.
  • Bêre melk in die koudste deel van die yskas. Probeer ook om nie melk in die yskas se deur te bêre nie, aangesien die deur die warmste deel van die yskas is. Stoor dit eerder in die middel of agter op die hoër rakke om die leeftyd te verleng.
  • Draai harde kase in perkamentpapier toe. Gooi die plastieksakkies weg en draai eerder jou harde kase in perkament- of bakpapier toe. Dit laat die kaas toe om asem te haal en nie uit te droog nie, maar verhoed ook dat ekstra vog muf veroorsaak. Harde kase kan tot vier weke in die yskas vars bly mits dit korrek gebêre word.
  • Doop jou groente in asyn. Dit is ʼn goeie manier om al jou vrugte en groente te ontsmet van bakterieë wat dit vinniger laat afgaan. Die asynoplossing moet ʼn 1:3 verhouding van asyn tot water in ʼn bak of skoon wasbak wees. Gooi jou groente in die asynoplossing en laat dit vir 15 minute lê. Spoel dit dan ordentlik af voordat jy dit in verskillende verpakkingshouers bêre. Dié metode kan jou groente vir tot twee weke in die yskas laat hou.
  • Stoor bessies saam met ʼn papierhanddoek. Sodra dit afgedroog is behoort bessies in ʼn lugdigte glashouer saam met ʼn droë papierhanddoek gebêre te word. Die papier absorbeer die oortollige vog, wat dan verhoed dat muf ontwikkel en groei. Deur die papier elke tweede dag te vervang, kan jy die bessies se varsheid met tot drie weke verleng.
  • Hou piesangs apart van ander vrugte. Piesangs skei ʼn gas genaamd etileen af, wat veroorsaak dat ander vrugte wat met dié gas in aanraking kom vinniger ryp word. Om jou piesangs se verrypingsproses te stuit, draai die steeltjies in plastiek toe of ʼn meer ekovriendelik aluminiumfoelie. Dit kan die verrypingsproses by kamertemperatuur met drie tot vyf dae verleng.
  • Vries jou kruie. Vars kruie kan in olyfolie in ysbakkies gevries word vir perfekte porsies. Water kan ook in plaas van olie gebruik word. Dié metode kan ook vir vars knoffel en gemmer gebruik word.
  • Vries jou neute. Die meeste neute en sade het ʼn leeftyd van drie tot ses maande. Om die leeftyd te verleng moet neute in koel, donker plekke gestoor word. Die agterkant van die spens is geskik, maar as jy dit in die vrieskas bêre kan dit langer vars bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.