Soorte resepte:

Pak daardie skoolkosblik reg

(Argieffoto: Esté Meyer Jansen)

Een van die groot raaisels wat ouers in die gesig staar wanneer hulle hul kroos vir die eerste keer by die “grootskool” aflaai, is wat op aarde in ʼn kosblik gepak moet word.

Jejean Grace, ʼn dieetkundige van Benoni, het ʼn paar brokkies raad vir ouers oor hoe om ʼn ideale skoolkosblik te pak.

Gebalanseerd is goed

Elke kosblik moet minstens ʼn vorm van stysel, proteïen (soos vleis, eiers, jogurt of grondboontjiebotter), ʼn vrug en groente bevat indien moontlik.

“Onthou, opgesnyde vars groente op ʼn broodjie tel ook,” meen sy.

Water is ʼn wenner

Grace raai ouers aan om eerder water as enige ander koeldrank vir kinders in te pak om by die skool te drink.

“Indien jou kind nie wil water drink nie, kan dit gemeng word met ʼn klein bietjie 100% vrugtesap of suikervrye konsentraat.”

Hoeveel is genoeg?

Volgens Grace is jou kind se hand ʼn goeie verwysing om te gebruik: ʼn vuisgrootte stysel, ʼn palmgrootte proteïen, twee handevol vrugte of groente en ʼn duimgrootte olie, sous of neute.

Wat van ʼn ou soet dingetjie?

Grace raai ouers nie aan om lekkernye heeltemal te verbied nie, aangesien dit later in die kind se lewe ʼn risiko vir ʼn eetsteurnis kan skep.

“Dit is goed om so nou en dan ʼn lekkerny te geniet, maar matigheid voor oë is belangrik,” verduidelik sy.

“Maak seker dat jou kind nie lekkernye eet omdat hulle honger is nie. Hulle moet ʼn gesonde peuselhappie geniet, dan later ʼn lekkerny eet omdat dit vir hulle lekker is, nie om die honger te stop nie.”

Moet ek spesifieke vrugte of groente vir my kind in pak?

“Enige vrug bevat baie vitamiene, minerale en vesel, so dit sal jou kind lank vol hou en nie tekorte aan enige nutriënte tot gevolg hê nie.”

Sy raai ouers egter aan om ʼn verskeidenheid vrugte deur die loop van die week in hul kinders se kosblikke te pak.

Pak wat jou kind ken

Kinders mag dalk ʼn keer of wat hul neuse optrek vir die kos wat jy vir hulle inpak. Grace stel voor dat jy inpak wat jou kind gewoonlik by die huis geniet.

“As jou kind byvoorbeeld nie van ʼn grondboontjiebottertoebroodjie hou nie, pak dan iets anders soos ʼn broodjie met bietjie hoender met laevet-mayonnaise gemeng. Dit is steeds ʼn stysel en ʼn proteïen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Jare terug, toe ons dogter klaar maak met kleuterskool, het die hoof tydens hulle gradeplegtigheid, die wyse raad met ons as ouers gedeel: sy het gesê vir baie van die ou kleintjies gaan dit ‘n vreemde omgewing wees, so pak vir hulle ‘n kosblik wat sê jy dink aan hulle, iets bekends, wat hulle last uitsien na hulle kosblik. En moet nooit ‘n hardgekookte eier in pak nie!!! Dit ruik baie sleg. En ek het vir ons 3 kinders hul kosblikke gepak tot die laaste een klaar was met skool. Hulle kan nog steeds nie uitgepraat raak oor hul kosblikke nie. En dit was altyd voedsaam met ‘n spesiale iets vir elkeen. So, ja, daar hoef nie spesiale duur kos gekoop tebword nie, maar verpak dit met liefde. Sit ‘n broodjie byvoorbeel in ‘n plastiese sakkie, dat dit nie uit droog nie. Daar is soveel lekker maniere om die kosblikke te pak, en dit moet hanteerbaar wees vir klein mensie. Geniet dit en doen dit met liefde. Net my 2 sent.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.