Soorte resepte:

Pruttende potte Rendang word gou-gou opgeraap

Deur Gerhardus Geldenhuis

(Foto verskaf)

Ek hou my asem op, die skootrekenaar wat ek by Sri se ouetehuis gaan aflaai het gee ʼn noodkreet oor die toestand van die battery en gaan binne die volgende vyf min afsit en dan is al ons konferensieplanne daarmee heen. Ons is in die middel van grendeltyd in Engeland, so almal is uitgehonger vir geselskap en Sri kan so lekker gesels en is ʼn pionier van Indonesiese kos in Engels, so almal wil gesels.

Ná ek almal stil gekry het en Sri laat besef het oor die êrens van die saak, soek sy nou na die rekenaar se kragbron wat darem nie te lank vat nie. Nou is daar net vier minute oor.

Sri kry nie ʼn werkende prop naby die tafel waar sy sit nie, ek vra haar haar of sy ʼn verlengkoord het en na sy so ʼn bietjie dink sê sy ja en sy staan op en gaan soek hom, ons trek nou al by drie minute oor en 10 minute voor die konferensie begin. Ek kan op haar kamera sien hoe sy stadig rondloop en soek. Ek tel die tyd af in my kop, net so hard soos die tikkende horlosie in die eksamenlokaal terwyl jy nog ʼn laaste bietjie inligting probeer weergee met die besef dat jy vroeër moes begin leer het. Met omtrent ʼn minuut oor maak Sri dit terug, prop in en ons het weer krag! Almal gesels weer en die krisis is verby.

So ʼn week of so later toe ek terug gaan om die skootrekenaar te gaan haal, gee Sri my twee bakkies kos, een met Rendang en een met spesiale rys. Ek smul te heerlik daaraan by die huis en besluit terwyl die meester se smake nog vars in my geheue is om dit self te probeer maak. Sri is ook baie gewillig om raad te gee en waarsku my dat dit ʼn morsige spul kan wees maar daardie gedeelte van die les het nie so sterk vasgesteek nie. Dalk was dit net so lekker dat ek nie omgegee het vir die mors orals nie.

Nie te lank daarna nie, bevind ek my in Suid-Afrika in Graskop waar ek vlerksleep en ek wil graag ʼn goeie indruk maak. So karwei ek al die vreemde bestanddele saam van Pretoria af en begin kook, en begin toe vinnig onthou hoe morsig dit is. Die dis is vol borrie en spoeg soos ʼn pot pap wanneer dit kook, so daar is geel spatsels orals! Ek kry toe maar koerantpapier om rondom die stoof te sit en word belowe dat die mors nie ʼn probleem is nie, dankie tog vir gasvryheid, want ek sien toe al hoe vlerksleep in afvlerk opeindig. Die pot is sommer lekker vol en die kos vreemd genoeg om dit ʼn geleentheid te maak om ekstra familie te nooi, wat toe in ʼn heerlike aand van kuier ontaard het. Ek het heeltemal te veel rissies ingesit – moes seker die muisneste wees – maar dit was nie te min nog steeds baie lekker al moes die meeste van ons dit saam met ʼn glas melk eet.

So ʼn rukkie daarna bly ek by vriende in ʼn woonstel in Pretoria en ek maak die aand ook Rendang in hulle nuwe kombuis wat met baie bloedsweet gekom het. So toe dit begin spatterig raak, is ek nie heeltemal verbaas om na buite verban te word nie. Bewapen met ʼn gasstofie moet ek maar buite klaar kook. Dit was eintlik ʼn verligting want terwyl ek nog in die kombuis was, was elke spatsel ʼn tydresies om opgevee te kry voor die borrie intrek en ʼn geel kol los. Daar is waarskynlik nog steeds ʼn geelkol of twee teen die nuwe teëls, maar darem te klein om te sien as jy nie weet waar om te kyk nie. Die aand was daar ook ekstra familie en ons kuier en eet weer heerlik saam met hierdie heerlike kerriegereg.

My mooiste en maerste niggie (sy het daarop aangedring) was ook nie vreeslik beïndruk met die spattende pot nie, maar ek is familie en daar was nie ʼn spaar gasstoof nie so ek moes maar binne bly. Sy het wel vir my begin vertel oor die rekening vir die nuwe kombuisblad en teëls rondom die stoof.

(Foto verskaf)

Rendang is ʼn Indonisiese dis wat ʼn metode was om groot hoeveelhede buffelvleis te bewaar in kokosneut en vet voor daar yskaste was. Soos met die meeste disse is daar verskillende metodes en ook opinies waar die dis vandaan kom, maar die meeste mense is dit eens dat Indonesië die ware geboorteplek van dié gereg is.

So as jy kans sien vir die mors of volgende maand ʼn nuwe kombuis insit of ʼn wonderwerk-skoonmaker het, hier is my resep:

Rendang

Neem drie of vier groot uie, sny rofweg op en plaas dit in ʼn kosverwerker. Sit ʼn hele knoffel-woonbuurt by (knoffelbol), of meer as jy graag die volgende dag jou vergaderings wil kort hou. Skil so 5 cm se vars gemmer, sny dit rofweg op, dan ook dieselfde hoeveelheid vars borrie ook afgeskil. Gebruik handskoene as jy die borrie afskil anders gaan jy geel hande hê vir ʼn dag of twee. Dit is belangrik om nie borrie- of gemmerpoeier te gebruik nie, want die vars weergawes geen ʼn unieke en meer komplekse smaak. Sit rissies by na smaak, ek sit net een of twee by want ek hou nie van te skerp nie en ek haal die sade uit. Laastens, as jy galangal kan kry kan jy daarvan ook ʼn 3 of 4 cm stuk bysit. Dit lyk soos kaal gemmer en is verlangs familie, maar in my opinie nie noodsaaklik nie. Gooi ʼn blikkie kokosneutroom by en blits tot alles lekker fyn is.

Neem intussen borsstuk (brisket) wat in repies opgesny is, of enige vleis met lekker vet, en braai dit in ʼn groot pot. Omtrent so ʼn kilogram of twee. Wanneer dit ʼn lekker kleur begin kry, sit die fyngemaalde sous by plus ten minste nog 4 blikkies kokosneutroom of melk – maar asseblief net nie laevet weergawes nie, want ons soek juis die vet. Sit ook ʼn stokkie sitroengras by. Verhit die hele mengsel tot kookpunt en laat dan stadig prut tot al die vloeistof weggekook het en daar baie olie en vet oorbly, dit gaan omtrent 3 ure vat. Moenie die olie afskep nie. Hou dit aan kook en wanneer die mengsel begin droër word, roer dit gedurig deur sodat die nie brand nie. Op hierdie stadium van die geveg gaan jy en jou kombuis tweede kom onder die aanslag van geel spatsels. Die vleis moet bly kook totdat daar amper geen meer vloeistof is nie, die vleis braai en die olie begin intrek in die vleis in. Dit gaan ook ʼn pragtige goudbruin kleur kry en die geur en smaak gaan nou heerlik wees. As jy aan die begin proe, dan gaan dit effe bitter wees want die borrie is nog nie gaar nie. Ek proe altyd soveel as moontlik, want dan leer ek hoe elke fase moet proe.

Ek bedien dit met gewone wit rys, maar jy kan die rys verryk deur van die water te vervang met kokosneutmelk. Ek vind dit te ryk, maar dit is wel baie lekker. Vir ʼn klein bietjie tekstuur en smaak sit fyngesnyde pistachioneute by, asook vars tiemie wat ʼn baie lekker rys is sonder om te ryk te wees. Kook die neute saam met die rys en sit die helfte van die vars tiemieblaartjies in en roer dan nog ʼn paar blaartjies deur die warm rys wanneer dit klaar gekook het.

Blykbaar in die ou dae kon Rendang so lank as ʼn maand gebêre word in ʼn koel plek, maar nog elke keer wanneer ek dit gemaak het word dit blitsvinnig opgeëet – so daar is dalk hoogstens ʼn lekseltjie oor die volgende oggend.

Gerhardus Geldenhuis (Foto verskaf)

Ek hoor graag van jou geelspatsel-ervaringe as jy besluit om dié dis te probeer.

  • Gerhardus is woonagtig in Engeland met sy hart in Suid-Afrika. Hy berei gereeld groot etes voor vir die kerk, bied kosmaakwerkwinkels aan by sy huis, soos hoe om jou eie miso te maak, en gaan pluk oor elke jaar meer blomme en vrugte as wat hy ooit self kan opeet. So deel hy gereeld konfyt, stroop en ander lekker dinge aan vriende uit. Hy het leer brood bak in ʼn Duitse bakkery en is aktief by die Oxford Food Symposium on Food & Cookery betrokke. Stuur vir Gerhardus ʼn e-pos by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.