Soorte resepte:

Resep: Hoender-en-boontjie-oondgereg

Foto ter illustrasie. (Foto: Weronika Krztoń/Unsplash)

Dié oondgereg is perfek vir die ysige winterkoue.

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • 8 hoenderdye, sonder vel of minstens die helfte sonder vel (750 g as dit sonder die vel is)
  • 2,5 ml sout – onthou die vleisaftreksel bevat ook sout
  • varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 middelslag ui, geskil, in dun skyfies gesny en ringetjies losgemaak (100 g)
  • 4 middelslag aartappels, geskrop en met skil in skywe van 1 cm gesny (500 g)
  • 410 g-blik gebakte bone in tamatiesous
  • 10 ml hoenderaftrekselpoeier of 25 g van Ina Paarman se vloeibare hoenderaftreksel
  • 10 ml mosterdpoeier
  • 5 ml gedroogde gemengde kruie
  • 25 ml suurlemoensap
  • 250 ml kookwater
  • 50 ml gekapte vars pietersielie

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
  2. Rangskik die hoenderporsies in ʼn enkel laag in ʼn oondbak of dikboomysterpot. Geur na smaak. Versprei die uieringe en dan die aartappelskywe oor die vleis. Skep die bone oor.
  3. Meng die aftreksel, mosterdpoeier, kruie, sap en kookwater en giet dit oor.
  4. Bak dit met die deksel op vir 2 uur totdat die vleis en groente sag en gaar is.
  5. Strooi die pietersielie oor en bedien dit met ʼn groen slaai, tamatie- en komkommerblokkies.

Bron: Veselryk
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.