Soorte resepte:

Resep: Salm-en-aartappelpastei

Salm-en-aartappelpastei. (Foto: Lapa Uitgewers)

Geniet hierdie pastei saam met ʼn groenslaai.

Lewer 4 porsies.

Bestanddele

  • 500 g aartappels, geskil en in kwarte gesny
  • 10 ml sagte margarien
  • 1 middelslag-eier, geklits
  • 25-50 ml laevetmelk (of laevetsojamelk indien laktose-onverdraagsaam)
  • sout en peper na smaak
  • 1,25 ml bakpoeier
  • 15 ml kanola- of sonneblomolie
  • ½ middelslag-ui, geskil en fyngekap (50 g)
  • 100 g knopiesampioene, afgevee en in dun skyfies gesny
  • 25 ml mielieblom, gemeng met ʼn bietjie van die melk tot ʼn gladde pasta
  • 250 ml laevetmelk (of laevetsojamelk indien laktose-onverdraagsaam)
  • 1 blik (217 g) pienk salm, met ʼn vurk gevlok (180 g gedreineer)
  • sout en peper na smaak
  • 75 ml gekapte vars pietersielie – hou 25 ml vir bo-oor strooi

Metode

  1. Kook die aartappels 15 tot 20 minute tot sag. Dreineer, druk fyn en roer die margarien, eier en net genoeg melk by om aartappels lig en donsig te maak. Geur met sout en peper en roer die bakpoeier by.
  2. Voorverhit die oond tot 180 °C. Verhit die olie en roerbraai die ui en sampioene totdat die sampioene sag is.
  3. Roer die res van die melk by. Verhit tot kookpunt en roer die mielieblompasta in ʼn dun straaltjie by die kokende melk. Roer en kook vir 2 tot 3 minute totdat die sous dik en gaar is.
  4. Roer die salm, oorblywende geurmiddels en 50 ml pietersielie by, en skep dit in ʼn gesmeerde oondbak. Maak gelyk. Skep die kapokaartappel bo-op en trek patrone met ʼn vurk.
  5. Bak dit vir 25 minute en verbruin verder onder die verhitte oondroosterelement indien nodig. Strooi die oorblywende pietersielie oor.
  6. Bedien dit warm met gestoomde ertjies en wortelrepies.

Bron: Glutenvry
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.