Soorte resepte:

Resep-video: Appeltert op die kole

Appeltert op die kole. (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

Hierdie paar bestanddele maak dié lekkerste appeltert in ʼn japtrap, perfek om saam te neem as julle gaan kamp of vir nagereg hierdie Braaidag. Dit is smullekker en jy het nie nodig om met deeg aanmaak te sukkel nie.

Indien jy lus is vir iets anders kan jy die appels met ander ingelegde vrugte soos pere of selfs koejawels vervang. Jy kan dit ook in die oond bak as jy nie reeds ʼn vuurtjie aan die gang het nie.

Bestanddele

  • 2 pakkies (200 g) gemmerkoekies
  • 1 pakkie (200 g) tenniskoekies
  • 1 k gouestroop
  • 2 blikke (765 g elk) tertappels
  • 1 e botter
  • 200 g donker bruinsuiker

Metode

  1. Druk die koekies fyn en voeg die gouestroop daarby en meng dit goed. Plaas dit eenkant vir later. Wenk: gebruik ‘n blikbeker om die koekies fyn te druk
  2. Verhit ʼn platboompot oor warm kole.
  3. Braai die appels in botter totdat die stukke baie warm is.
  4. Voeg die suiker by die appels en roer dit goed totdat die suiker begin karamelliseer.
  5. Skep ʼn laag van die koekiemengsel bo-op die appels en sit die pot se deksel op.
  6. Krap ʼn paar kole weg om die hitte bietjie te verminder.
  7. Los die pot doodstil vir 15-20 minute sodat die kors bo-op kan bros bak.
  8. Skep die appeltert in bakkies en sit dit voor saam met roomys of ʼn bietjie vla.

Al die Maroela-produkte wat jy in dié video sien, is in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie, beskikbaar. Klik hier om dié mooi produkte te koop en jou kombuis in ʼn plaaskombuis te omskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.