Soorte resepte:

Resep-video: Pampoenkoekies

Pampoenkoekies. (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

Pampoenkoekies is die rede waarom ons altyd heel eerste by die kos op ʼn troue is, en dit is ook die rede hoekom ons nie meer na troues genooi word nie. Daarom het ons besluit om sommer self te maak, dis heelwat minder moeite en dan hoef ons nie te deel nie!

Daar is min dinge so lekker soos pampoenkoekies. Bedien dit warm saam met kaneelsuiker, stroop of selfs ʼn lekker skep roomys. Gaste sal toustaan vir nog!

Bestanddele

  • 1 k gaar pampoen, verpulp
  • 1 k koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 1 eier, geklits
  • Sonneblomolie om koekies in te braai
  • 50 ml kaneelsuiker (45 ml suiker en 5 ml fyn kaneel gemeng)

Metode

  1. Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
  2. Voeg die pampoen en eier by die meel en meng alles goed.
  3. Verhit olie in ʼn pan, gebruik net genoeg om die bodem van die pan te bedek.
  4. Skep groot lepels vol van die mengsel in die olie.
  5. Braai dit tot daar borrels om die rand van die koekie vorm, en draai dit dan om sodat die anderkant vir sowat 1 minuut kan braai totdat dit mooi bruin en gaar is.
  6. Haal dit uit die pan en dreineer op ʼn stuk handdoekpapier.
  7. Rol die pampoenkoekies in die kaneelsuiker en geniet elke hap.

Al die Maroela-produkte wat jy in dié video sien, is in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie, beskikbaar. Klik hier om dié mooi produkte te koop en jou kombuis in ʼn plaaskombuis te omskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.