Soorte resepte:

Resep: Karamel-en-grondboontjie-yskastert

Karamel-en-grondboontjie-yskastert. (Foto: Lapa Uitgewers)

Sien jou soettand met dié yskastert reg.

Lewer 12 porsies.

Bestanddele

Kors

  • 200 g (1 pak) Tennisbeskuitjies, fyngemaak
  • 50 g (½ pakkie) kasjoeneute, fyngekap
  • 100 g botter, gesmelt

Vulsel

  • 250 g (1 bakkie) laevetroomkaas
  • 250 ml strooisuiker
  • 312 ml gladde grondboontjiebotter
  • 250 ml melk
  • 20 ml gelatienpoeier
  • 60 ml water
  • 250 ml room

Kasjoeneut-fudgesous

  • 60 ml room
  • 1 groot blok fudge, grofgekap
  • 50 g (½ pakkie) kasjoeneute, grofgekap

Metode

  1. Kors: Spuit ʼn 22 cm-tertbord of -losboomkoekpan met kossproei.
  2. Meng die fyngemaakte koekies en die fyngekapte kasjoeneute bymekaar. Roer die botter by en meng goed.
  3. Druk die koekiemengsel op die bodem van die tertbord of losboomkoekpan vas.
  4. Vulsel: Meng die roomkaas, strooisuiker en grondboontjiebotter. Roer die melk by tot goed gemeng.
  5. Strooi die gelatien oor die water en laat dit staan tot sponserig. Verhit dit ʼn paar sekondes lank in die mikrogolfoond tot net helder. Dit moenie kook nie.
  6. Voeg die gelatien geleidelik by die roomkaasmengsel en meng goed.
  7. Klits die room styf en vou dit by die roomkaasmengsel in.
  8. Skep die vulsel in die tertkors en plaas dit in die yskas om te stol.
  9. Sous: Verhit die 60 ml room en die fudge oor lae hitte in ʼn kastrol tot gesmelt. Roer gereeld. Roer die neute by en laat afkoel. Sit die sous saam met die tert voor.

Bron: Yskasterte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.