Soorte resepte:

Resep: Geroosterde pampoen met dukkah

Geroosterde pampoen met dukkah (Foto: Lapa Uitgewers)

Vandag is Wêreld Vegetariese Dag en Armand Aucamp bederf ons met ’n heerlike vegetariese resep uit sy kookboek Armand kook kaal.

“Dukkah. Nee, nie my eie vloekwoord nie (alhoewel dit net so lekker sê)! Dukkah is ’n eksotiese neut-en-speserymengsel uit antieke Egipte wat jy oor enige vleis- of groentegereg kan gebruik.”

Lewer 4 porsies

Bestanddele

DUKKAH

  • ½ k makadamianeute (jy kan ook amandels of haselneute gebruik)
  • 2 e koljandersade
  • 2 e komynsade
  • ½ k geroosterde sesamsade
  • 1 t vinkelsade
  • 1 t piekelsout
  • 1 t swartpeper

SLAAI

  • 500 g pampoen, in 2 cm-blokkies gesny
  • 1 groot rooiui, in kwarte gesny
  • 3 mediumgroot beet, in agstes gesny
  • 2 groen soetrissies, in groot stukke gekap
  • olyfolie
  • 3 e dukkah
  • 1 pak (100 g) wilderoketblare
  • 2 fetawiele
  • 2 e pampoensade
  • varsgemaalde sout en peper

Metode

DUKKAH

  1. Gebruik ’n diep braaipan en maak dit baie warm op ’n plaat.
  2. Hou die pan droog en rooster die neute vir 1-2 minute. Onthou om die neute aanhoudend te roer of te skud.
  3. Voeg die koljander- en komynsade by. Rooster vir nog ’n minuut.
  4. Voeg die sesam- en vinkelsade en die varsgemaalde sout en peper by. Rooster weer vir 1-2 minute. Onthou om te roer om te verhoed dat die sade brand.
  5. Verwyder van die hitte en plaas alles saam in ’n voedselverwerker. Puls totdat dit grof gekap is; mik na die tekstuur van growwe bruinsuiker. Jy het nou genoeg dukkah vir ’n paar disse, so bêre dit in ’n lugdigte houer in die yskas.

SLAAI

  1. Voorverhit die oond tot 180 °
  2. Plaas al die gekapte groente in ’n roosterpan en drup lekker baie olyfolie oor. Geur met varsgemaalde sout en peper.
  3. Strooi die dukkah oor die groente en gebruik jou hande (skoon, asseblief!) om die groente, olyfolie en dukkah lekker te vermeng.
  4. Plaas in die oond en rooster vir 20 minute of tot gaar en die punte lekker bruin gebraai het. Jy kan na 10 minute die groente omdraai, maar moenie die pampoen papdruk nie.
  5. Sodra die groente gaar is, haal dit uit en laat eenkant effe afkoel.
  6. Plaas die roketblare op ’n plat slaaibak en skep die groente daaroor. Krummel groot stukke feta oor en strooi die pampoensade oor. Is dit nie “dukkah” lekker nie?

 

Bron: Armand kook kaal

Uitgewer:
Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.