Soorte resepte:

Geen diensfooi hiér geduld

Die Hokaai Boerekos-padstal buite Mosselbaai. (Foto: Elaine Krige)

Deur Elaine Krige

Ná ʼn lang oggend op die strand in ʼn snikhete Desember, water ons gesinnetjie se monde vir ʼn smaaklike middagete. Ons wil vis eet, ons is mos nou by die see. Die opsies van restaurante is uiters beperk op Gouritzmond aan die Suid-Kaap, en ons besluit om ʼn entjie uit die dorp te ry, op soek na ʼn lekker seekosrestaurant.

Op die N2, tussen Gouritzmond en Mosselbaai, sien ons die groot rooi bord met die woorde Padstal: Hokaai Boerekos. Dis nou nie juis waarna ons op soek was nie, maar ons honger mae laat ons eenvoudig nie toe om verby te ry nie.

Ons gaan sit op die stoep waar die heerlike seebriesie ons kan koel waai. Gou word die spyskaarte voor ons neergeplak en ek gewaar onmiddellik die dis van die dag: skaapkerrie bedien met ses groentes en ses slaaie. Kan dit waar wees?

Die eienaar van die restaurant, Marlene Oosthuizen, kom neem sommer self die bestelling. Sy herinner mens aan jou ouma op die plaas en boesem sommer dadelik vertroue in. Hiér gaan ons lekker eet!

Ek sien tuisgemaakte plaasbrood word saam met elke maaltyd bedien, maar aangesien die skaapbredie met rys bedien word, wonder ek hardop oor die plaasbrood. “Nee,” seg Oosthuizen, “ek bring die brood as voorgereg. Dis op die huis. Sommer net iets om die leë gaatjie te vul.”

Varsgebakte plaasbrood wat voor die ete bedien is. (Foto: Elaine Krige)

Ons kan amper nie ons ore glo nie. Enkele minute later daag die brood by die tafel op. ʼn Varsgebakte boepensbrood, warm uit die oond, bedien met elke soort konfyt of smeer waaraan jy kan dink. Ek en my man maak groot oë vir mekaar. Vandag rol ons sowaar hier uit.

Toe skaars ʼn paar krummels van die brood op die bord oorbly, roep die kelner ons. Ons kan binne gaan inskep. Die disse is te veel om op die tafel buite te bedien.

Die kerrie en rys word in ʼn groot swart pot uitgesit en die bykosse netjies in klein glaskeltjies bedien. Dit sluit in ertjies, pampoen, groenboontjies, waterblommetjies, wortelslaai en aartappelslaai. Alles wat jy op jou ouma se etenstafel sou aantref.

Ons skep twee keer, en kan steeds nie die koningsmaal opgeëet kry nie. Darem kan ons ʼn brakkie-sakkie huis toe vat.

Oosthuizen vertel sy het dié eiendom, oorspronklik ʼn bordeel, 13 jaar gelede aangeskaf en in ʼn suksesvolle restaurant omskep. “Ek het op ʼn plaas grootgeword en by my ma leer kook. Ek is veral erg daaroor dat my vleis behoorlik gaargemaak word. Ek sit nie baie speserye in die kos nie, net sout en peper en liefde.” ʼn Mens próé dit ook.

Die skaapkerrie met ses slaaie en ses groentes. (Foto: Elaine Krige)

Van Oosthuizen se ander spesialiteite sluit in skaapboud, kerrievis en bobotie. Sy bedien ook graag tradisionele nageregte soos sagopoeding en jellie met vla.

Die rekening kom en my man bereken oudergewoonte die diensfooi, toe die kelner vinnig inspring. “Diensfooie word nie hier toegelaat nie.” Ons monde hang oop. Hoe nou?

Oosthuizen verduidelik dat almal se werk by Hokaai Boerekos belangrik is, van die kok tot die skoonmakers. “Hoekom dan die kelners uitsonder?”

Hokaai Boerekos is gedurende skoolvakansies elke dag van die week van 08:00 tot 17:00 oop en bedien heeldag lank ontbyt en middagete. Buite seisoen is die padstal Dinsdae en Woensdae gesluit.

Op Sondae word slegs ʼn buffet-middagete tussen 12:00 en 15:30 bedien.

Vir meer inligting, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.